Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

PLANT EN VERGEET!

PLANT EN VERGEET!

deur Anna Celliers

As die strook grond buite die grensmure van jou tuin aan jou kant van die sypaadjie maar ’n bietjie oes lyk, kan jy gerus vergewensgesinde plante daar plant en met ’n skoon gewete agterna van hulle vergeet.

Met “vergewensgesinde” plante dink ons natuurlik aan die tawwe tienies wat, nadat hulle in goed voorbereide plantgate geanker is, heel geil sal groei en sal oorleef met die minimum aandag en water – die hoofvereistes van ’n tuinier wat sonder verdere inspanning darem ook ’n mooi sypaadjietuin wil hê.

SES VAN DIE BESTES:

STICKS OF FIRE (Euphorbia tirucalli)

Die gewone kraalnaboom (Euphorbia tirucalli) is so wyd oor die wêreld versprei dat niemand meer weet wie se eiegoed dit nou eintlik is nie. Tradisioneel is dit as digte onvernietigbare heining- of bufferplante om woon- en veekrale gebruik. Die pronkerige tuinvariëteit, Sticks of Fire, met sy oorvloed silindervormige goudgeel sytakkies met koraaloranje punte en klein, amper onopvallende blaartjies wat spruit uit dik litte, het modeplante vir moderne tuine geword. Droogte, hitte en warm son maak die helder kleure nog vuriger, wat die plant soos ’n baken in die landskap laat uitstaan.

Die kraalnaboom word by uitstek as aksentplant of houerplant gebruik. Jy kan nog meer dramaties tekere gaan deur hulle in groepe op ’n rotstuin tussen aalwyne en grasse te plant, of tussen hoë palms en ander subtropiese plante met groot blare in ’n tropiese tuinstyl. Dié vinnige groeier is meerstammig en word ongeveer drie tot vier meter hoog.

Die plant is geskik vir warm en gematigde klimaatstoestande hoewel dit ’n bietjie Karoo-winterkoue ook sal verdra. Gereelde snoeiwerk kan die plant se grootte beheer, maar jy moet beskermende handskoene en ’n bril dra om te keer dat die melksap op jou hande en arms en in jou oë kom. Die snoeisels skiet maklik wortel in growwe riviersand.

SONVANGER (Agave attenuata)

Hierdie is loshande een van die mooiste vetplante met groot rosette vol vlesige, doringlose blare met ’n ligte mentgroen kleur. Die plant lyk tropies en word gewoonlik naby ’n swembad of langs rustieke tuintrappe en paadjies geplant. Die wortelstelsel is vlak en klein, maar het saam met die lang stamme met hul groot en swaar blaarrosette aan die eindpunte, genoeg krag om grond teen ’n skuinste stewig vas te hou. Hierdie plant het uiters waardeerbare kenmerke; dit groei maklik van stamstegge wat jy bloot van die moederpol kan afsny en in die grond steek, dit groei in volson, maar ook in redelike diep skaduwee en die vlak wortels anker baie maklik tussen dié van groot bome. Die plante is uiters droogtebestand en buiten slakke wat lief is om aan die sappige blare te vreet, is daar niks anders waaroor jy jou hoef te bekommer nie.

Wanneer die moederroset blom, verskyn ’n baie lang bloeiwyse vol sagte geel blommetjies. Die gewig van die blomsteel laat dit neerbuig terug grond toe in ’n sierlike boog, wat aan die plant sy ander volksnaam, swaan-se-nek, gee.

Hierdie is ’n vrygewige eenmalig bloeiende plant wat baie lopers (babaplante) aan die basis van sy stamme produseer en redelik gou ’n taamlike ruimte toegroei.

CALOCEPHALUS BROWNII

Die kussingvormige silwerbos het ’n amper bisarre voorkoms met sy draderige sytakke waaraan piepklein blaartjies kleef. Van ’n afstand laat die geharde Australiese struikie ’n mens aan die agterkant van ’n beneukte ystervark dink. Dié plant wat tussen 40 cm en 70 cm hoog word, is bekend vir sy verdraagsaamheid teen wind, hitte en droogte.

GOUE TAPYT (Helichrysum cymosum)

Goue tapyt is ’n baie mooi grondbedekker met grysgroen harde blaartjies. Dit het ’n massa fyn, geel blommetjies in die laatsomer en herfs. Goue tapyt hou van warm volson plekke, min water en sanderige grond wat uiters goed dreineer.

COMANS BRONZE (Carex)

Die meeste siergrasse in die Carex-genus is immergroen, hou van volson en is gehard. Comans bronze se diep bronskleur hou regdeur die jaar en is ’n uitstekende loof- en tekstuurkontras tussen die ander plante hier genoem.

BURGUNDY SUNSET (Leucodendron)

Die tolboshibried het ’n unieke donkerbruin, amper swart, loofkleur en groei sowat 1,5 meter hoog en 1 meter breed. Die loofkleur van hierdie plant skakel in met omtrent enige ander kleur of tekstuur, maar staan ook uit en tref beslis die oog. Dis ’n plant wat min sorg vereis, graag in sanderige grond groei en ryp-, wind- en droogtebestand is.

 

* Hierdie artikel is deur Netwerk24 aan Merise beskikbaar gestel.

Kry al die jongste Suid-Afrikaanse en internasionale nuus in jou moedertaal op Netwerk24. Ons is die aanlyntuiste van al die gunsteling- Afrikaanse koeranttitels soos Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport. Jy kan kies en keur uit ons inhoud van lipleklekkerresepte tot vuurwarm debatte. Sluit aan by die beste gesprek in Afrikaans – Netwerk24 teen slegs R99 per maand of stel dit GRATIS op die proef vir 30 dae!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *