Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

Binnelanders

Binnelanders

Die Engelse het ‘n spreekwoord wat lui: “No good deed goes unpunished,” en Naomi (wat in die reeks Binnelanders deur Je-Ani Swiegelaar vertolk word), is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Met haar sagte hartjie en naïewe geloof in die goedheid van die mensdom, het sy pens en pootjies in die strik van ‘n aardsmanipuleerder getrap en raak sy al hoe meer in sy listige net verstrengel.

Sy ignoreer haar eerste instink om niks met Ferdi te make te hê nie en laat haar lei deur haar pa en vriende se gloeiende opinie van oom Wimpie se neef. Sό verblind deur die liefde, ignoreer sy al die gevaartekens van ‘n ongesonde verhouding wat mettertyd al hoe duideliker word. Sy steek die blou kolle op haar lyf slinks vir haar kollegas en gesin weg en noodleuens rol gemaklik van haar tong af namate sy ongerymdhede probeer wegpraat.

Die eens skugtere, sagmoedige verpleegsuster ontwikkel ‘n vlymskerp tong as sy in die moeilikheid kom omdat sy byna ‘n pasiënt te lyf gaan. Dan neem sy Pippa se aanbod om ‘n bietjie weg te breek met ope arms aan . . . net om nog dieper in die moeilikheid te raak. Ferdi beland in die intensiewe sorgeenheid en speurder Liebenberg snuffel soos ‘n genadelose bloedhond om die waarheid te ontbloot.

‘n Klein deeltjie van gesinsgeweld word aan die groot klok gehang wanneer dit duidelik word dat stilbly eintlik die persoon wat gewelddadig optree, beskerm. Dié wat weet, swyg om Naomi die vernedering te spaar, terwyl dié wat raai hul ore aan die verkeerde mense uitleen en dikwels foutiewe afleidings maak.

Je-Ani Swiegelaar is eintlik as ‘n komediant bekend, maar in die rol van Naomi beïndruk sy met skitterende toneelspel. Ferdi, vertolk deur Cobus Venter, moet eerder nie sonder beskerming in die strate rondloop nie, want as ‘n Binneland-liefhebber hom raakloop, mag hy dalk sleg tweede kom. Niemand hou van ‘n boelie nie, veral nie as hy goeie mense beswadder en leed aandoen nie.

Binnelanders word Dinsdag tot Saterdag op ShowMax vertoon. Moenie hierdie sepie misloop nie! Teken in by showmax.com om te kyk hoe die drama uitspeel.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *