Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

RAISON D’ÊTRE: DIE HEEL BELANGRIKSTE REDE

RAISON D’ÊTRE: DIE HEEL BELANGRIKSTE REDE

deur TANA SAUNDERS

Dit het 13 lang jare gevat voor my Menskat begin verstaan het dat die borsel van my skitterende Siamese pels vir my ‘n groot inspirasie en aansporing is. Hoeveel makliker kon die lewe gewees het as sy hierdie eenvoudige konsep vroeër besef het! Noudat sy beter ingelig is, loop dinge in my lewe seepglad.

Sy dring nog steeds daarop aan om elke oggend walglike “sap” in my keel af te spuit “vir die niertjies en die seer gewriggies, my engel”, en ek stik en stotter en skud my kop – ek het jou ‘n rukkie terug van hierdie slegte gewoonte vertel, as jy kan onthou.

Maar noudat my Menskat tekens toon dat sy uiteindelik van die Siamese Skool van Aansporingsbestuur kan gradueer en einde ten laaste die belangrikheid van die beloningstelsel verstaan, weet sy ook hoe om die pelsborsel langs die martelinstrumente op die bed te posisioneer, sodat sy my glansende pels kan begin borsel die oomblik wat ek die laaste mislike mondvol gesluk het.

Ai, hoe geniet ek die gevoel van die borsel oor my vel! My vel trek saam van plesier en ek plons op my sy neer – katswink en spinnend onbeweeglik, tong wat tussen my blink tande uitsteek, die vernedering van “sap-drink” heeltemal oorskadu deur die plesier van die mens se sagte borselhale en sag-vrywende hand. Die ritme salf my omgekrapte ego en herstel my gewonde trots. Tot so mate dat ek deesdae die oomblik van marteling met genoeë verdra omdat ek weet watter genot daarna op my wag. Wat my Menskat nie weet nie, en in die belang van my aura van geheimsinnigheid beplan ek om haar niks hiervan te vertel nie, is dat ek nog ‘n swakheid het. Ek sal amper enigiets doen as my Menskat belowe om met my sabels te speel. ‘n Verskriklike swakheid, ek weet. Maar wanneer sy my pote vashou en saggies aan my naels trek, die gladde kromming van daardie gevaarlike wapens bewonder, en my adellike voetkussinkies masseer, kwyl ek behoorlik van plesier en ek gee nie juis veel om wat sy daarna met my doen nie – selfs ‘n vinnige pedikuur is onder hierdie omstandighede aanvaarbaar.

My nuutste verwenning noem ek die “kangatroetel”: opgeraap in my Menskat se arms, op my rug met my pragtige sjokoladekleurige Siamese bene wat in alle rigtings uitsteek soos, wel soos ‘n oorgroot kangaroetjie in die buidelsak! Loutere vreugde.

Dís wanneer ek ontspan, in haar arms terugsak en na haar haarlose, bles gesig kyk. Regtig so ‘n jammerte dat mense nie pels op hul gesigte het nie. Ek dink hulle kon heel aantreklik gewees het met ‘n bietjie pels. My Menskat het ‘n klein bietjie daarvan, in ‘n hoop op haar kop – hoe vreemd! My sy is nie baie goed daarmee om haar eie pels te versorg nie en dring daarop aan om onsmaaklike goed daarop te sit wat ek sukkel om in die nag af te kry as ek in haar arms slaap. Maar ek het haar lief en sal nie opgee nie.

Die deel waaroor ek nie so seker is nie, is die feit dat sy haar nuutgevonde aansporingbewustheidsvaardighede ook op die ander toepas. Ek gee nie so baie om as sy dit vir die Groot Leeu gebruik nie – hy is per slot van rekening die hoof van die trop en ons bewonder hom almal. Selfs wanneer hy op die rooi bank lê en spin met sy oë toe, klaarblyklik besig om “die Ashes te kyk”. Wanneer dít gebeur, kan ons nie help om oor sy baie luide gespin te giggel nie – maar natuurlik sal ons dit nie hardop doen nie.

Aan die ander kant, dit lyk asof die Groot Leeu maklik deur kos en iets met die naam van “sport” geïnspireer word – veral wanneer die twee saamgaan, en my Menskat bestuur hierdie tegniek nogal goed. Terwyl die Groot Leeu voor die televisie kalm gehou word, het ons vier meisies vrye teuels – selfs Bobster die Mobster mag liefdevol teen die Groot Leeu se handpalms skuur.

Gepraat van Bobster, haar aansporingsmiddel is beslis kos – veral gebraaide hoender. Ons gebraaide hoender arriveer gebraai, vet en sappig in die kombuis – reg vir die fees en dit is die moggy se teken vir haar vertoning – ‘n gekrys en gekerm (ek weet dis ongewoon, maar hou in gedagte dat hierdie ‘n moggy is) en haar spinnekop-ballet terwyl sy op haar hoede bly dat daar nie op haar getrap word nie. Natuurlik word haar gekattemaai beloon . . .

Ek veronderstel ek behoort hier te noem dat Bobster die Mobster ook van lekker vertroetel hou. Die oomblik wat een van die Menskatte aan haar vat, doen sy die eendstert – boude in die lug en haar gesig plat teen die vloer. Dan kwyl sy van liefde en haar gevlekte lyf bewe met haar skril gespin. Dit is so lagwekkend. Maar sy is ‘n kat geheel en al sonder skaamte.

My beskermling, soos ek deesdae aan Georgie Girl dink (sy begin nou groot potensiaal toon, selfs al is sy ‘n moggy se dogter), is gek na jag en oefen om haar skerp sabels te gebruik. Hulle is klein in vergelyking met myne, maar dis hoe dit is – die moggy-weergawe van kloue. Te danke aan my kundige leiding word sy by die dag beter, maar sy sukkel om een lawwe gewoontetjie af te leer: sy wikkel haar agterstewe vir sekondes lank voor sy haarself deur die lug werp, en natuurlik, soos jy jou kan indink, maak dit haar aansienlik stadiger en gee dit haar prooi kans om te ontsnap.

Dit wil voorkom asof die Groot Leeu dit net so frustrerend vind, want hy sal dikwels wanneer sy in haar tonnel die posisie inneem (met haar wikkelende bas wat een kant uitsteek) en vir die aanval voorberei, haar stert kielie! Georgie Girl val dan sommer om van genot, vergeet haar opdragte en boots haar ma se “floute”, wanneer ‘n Menskat haar aanraak, na. Al word haar aandag maklik afgelei is jag steeds vir haar ‘n groot liefde en motivering.

Georgie en die Groot Leeu hou daarvan om “bosvarkjag” te speel. Jy onthou dalk dat ek altyd hierdie speletjie met die Groot Leeu gespeel het toe ek nog ‘n klein katjie was, maar al die gehardloop en wegkruip en gekappery pas nie by ‘n prinses nie. Maar dis ‘n prettige speletjie en Georgie is skitterend daarmee. Die Groot Leeu hyg al lankal na sy asem dan is sy nog vars en besig om aan nuwe maniere te dink om hom uit te oorlê. Hy kan net nie haar opvreetbare uitnodigings om te jag, weerstaan nie!

Ek is trots om te sê dat my Menskat se grootste motivering my genot is. Heel toepaslik! Ek is ‘n meester daarin om haar te manipuleer: die sagte, blou-oog-flankeerkyk, die liefdevolle en aanmoedigende tjirp wanneer sy aan my vat, die kopstu wanneer sy slaap en ek peuselrig voel, die wikkel van my stert as ek haar sien. Dit alles laat haar glimlag en dan bedink sy planne hoe om my nog verder te bederf – wat my ‘n baie gelukkige Siamese prinses maak.

Dit laat my met ‘n gedagte . . .  miskien is die grootste geheim, die grootste aanmoediging, ons raison d’être dalk nie die borsel, die gebraaide hoender, die sport, die jagspeletjies en die pedikure nie, maar die Liefde.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *