Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

DAAR’S TÓG HUMOR IN HOSPITALE

DAAR’S TÓG HUMOR IN HOSPITALE

Van Ouma uit die Hartland

My liefste blondekoppies

Die somer is hier. Die tamatiesaadjies wat julle tydens jul kuier gesaai en met vet handjies in die potte platgedruk het, het welig gegroei en sit rooiwang in rytjies aan die stamme.

In ons twee se laat-somerjare, dis die tyd waarin ek en Oupa ons nou bevind, moet daar soms timmerwerk aan die lyf gedoen word. Dit beteken hospitaal toe sodat die dokter kan vasknoop wat los is en heelmaak wat krom is.

Dié keer was dit Oupa se beurt omdat sy hande nie meer sy gholfstok so lekker kon vasvat nie. Laasjaar twee vingers laat doen, nou die res. “Gelukkig het ‘n mens net soveel vingers,” het Oupa vroeg die Maandagoggend op pad hospitaal toe gebrom. Nie sy gunstelingplek nie, want in ‘n hospitaal is jy uitgelewer aan die genade, reken hy.

Met alle vorms vooraf ingevul, het hulle net vir sy handtekening gewag. Die drukker agter die lessenaar het plakkertjies uitgespoeg met alle inligting daarop: mediesefondsbesonderhede, dokter, doopname, van, ouderdom, gewig, teater- en saalnommer, rede vir operasie en nog wat. “Hoekom so baie – dis net my hande?” wou hy benoud weet toe daar reeds 30-40 plakkertjies uithang. Die ontvangs-dame het met ‘n hier-vra-ek-die vrae-kyk ongesteurd gesê: “Daar’s baie plekke wat plakkers moet kry.”

Doodbenoud geskrik, vra hy liewer nie “Waar oral?” nie. Klaar uitgelewer, sien? Die portier wat hom met ‘n rolstoel na die saal 50 meter verder gang-af wou stoot, word egter beleefd-vererg afgewys en ons stap flink saam met hom. Die saalsuster groet ons vriendelik op die van, maar duidelik moeg ná die nagskof blaf sy vir die portier: “Die vingers gaan na Bed 4D.”

Sien, dis nou die ander ding van ‘n hospitaal. Jy word op jou volle name toegelaat, maar as jy die saal instap, word jy op jou kwaal of seerplek genoem. En omdat almal in ‘n hospitaal blykbaar doof is, word dit hard uitgeblaker sodat almal uit hul beddens oplig om vir Vingers te verwelkom. Daar is reeds drie ander pasiënte in Oupa se kamer wat plegtig aan ons voorgestel word.

In die hoek lê ‘n 15-jarige knie, wat na ‘n rugbyduik-slag geopereer moes word. Oorkant is ‘n ouerige Portugese oom met nierstene en langs julle oupa, ‘n 82-jarige blaas.

Die volgende ding wat julle snipsnuiters moet weet, is dat alle pasiënte blou teaterkleertjies dra. Dit word van baie min en baie dun materiaal gemaak en lyk kompleet nes ‘n opgevoude jammerlappie; dieselfde deurskynende blou.

(Jammerlappies is mos dit waarmee van julle bekkies tot julle boude afgevee kan word.) Maar eintlik is die teaterklere net ‘n bitter kort jurkie wat met ‘n toutjie om die nek vasmaak en die res wawyd oop aan die agterkant. Om daarby te pas, ‘n broekie, ja, julle het reg gehoor, en ‘n mussie vir die kop. “Maar kan ek nie maar my eie onderbroekie . . .” probeer Oupa walgooi teen dié een, “dis tog net my hande wat . . .” maar die nuwe nurse kyk hom met Afrika-korrektheid tot stilte en pluk die gordyne voor die ander drie pare nuuskierige oë toe.

“Be ready in five minutes to fill in the forms,” dreig sy deur die gordynskrefie.

Wát? Nóg vorms? En alles is dan per foon en e-pos volledig vooraf beantwoord. Hulle weet reeds te veel van sy familiegeskiedenis om net sy vingers reguit te kry? Toe nie. Vyf minute later was sy terug met ‘n stapel vorms en Oupa klouend aan die lakens tot onder sy ken om die skamele bekleedsel toe te hou.

Duidelik geoefend vuur sy die vrae, want die teater wag nie en die vraelys is lank.

“Surname.” “Maar, dis op die plakkertjies,” verweer hy floutjies. Sy herhaal dit geduldig, streng. Hy antwoord sugtend. “Full names.” Hy gee boedel oor en blits die antwoorde gelate met toe oë terug. Hulle stoei weer deur sy ouderdom, adresse, allergieë en ander lyflike besonderhede soos gewig, lengte, kindersiektes, medikasie, rook- en drinkgewoontes en elke operasie, kwint en kwaal. Amper klaar. Sy skiet die vrae met reëlmaat sonder om van die papier af op te kyk en hy antwoord geduldig. “Describe your general health condition, Sir.” “Excellent.”

“Are you pregnant, Sir?” Sy wag geduldig en hy antwoord met ‘n stomme stilte. Sy herhaal die vraag. Kyk vir die eerste keer op en vang tegelyk ons gesigte.

Die oomblik word te groot as die waarheid deurbreek en ons skater aldrie uitbundig, elkeen in sy eie taal. Van agter die toe gordyne, deel Niersteen, Knie en Blaas dié kosbare vergissing en lag hartlik saam; alle pyne vir die oomblik vergete.

Niersteen moes eerste in – ‘n noodgeval. Van die lang wag was Oupa teen dié tyd al rasend honger, vorige aand laas iets geëet, terwyl die sale se brekfis met groot geskal van skottels en breekgoed aangekondig en uitgedeel word.

Terwyl hy later ‘n draai loop, klouend om die jakkie agter toe te hou op pad badkamer toe, mompel hy droogweg oor sy skouer, nou besef hy waarvoor staan ICU!

Die niersteen word teruggestoot en huil saggies in Portugees tot hulle vir Oupa kom haal vergeetland toe. Dan ontdek die suster – fout! Hy het nie sy teaterkeps opgesit nie! Dié word skeef opgeplak met helfte van die hare wat uitsteek. Hy waai floutjies vir my met ‘n kyk wat uitspel: finaal uitgelewer.

Ná ‘n lang wag, baie koppies koffie en vele bekommerde boodskappies van julle af, is Oupa volle twee ure later teruggebring, die twee verbinde seer hande soos loofhandjies orent bo sy kop. Hy was stormhonger en ek moes ‘n piepklein toebroodjie happie vir happie vir hom voer en die tee met ‘n strooitjie ingee. Toe wou hy opsluit huis toe, want daar het hy immers nog beheer gehad, al was dit net oor die TV-remote! Maar natuurlik, het julle gedink hy kan nie met een vinger knoppies druk nie? Dink weer! En ‘n glasie rooiwyn gaan maklik af met ‘n strooitjie.

Danksy julle twee se boodskappies, voel hy sommer al stukke beter. Soos Kleinboet dit wyslik uitgelispel het: “Oupa se handjieth het bietjie oud en thkeef geword, maar die dokter het dit weer nuut gemaak thodat Oupa onth weer kan optel.”

Thlim dokter, thlim kind!

Hartsgroete van huis tot speelkamer.

Liefde@Ouma.co.za

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *