Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

DIE LEWE VAN JANE AUSTEN

DIE LEWE VAN JANE AUSTEN

deur ESTIE WENTZEL

Bekende karakters wat uit Jane Austen se pen gebore is, word deur lesers en filmgangers regoor die wêreld geniet. ‘n Karakter soos Elizabeth Bennet van Pride and Prejudice, wat duidelik nie op haar mond geval is nie, gee ‘n goeie idee van hoe die lewe in die laat agtiende eeu tot vroeg in die negentiende eeu was. Die dilemma van vrouwees in daardie tyd – om te trou vir liefde of status – word weerspieël in die karakter, Marianne, se wilde liefde vir Willoughby in Sense and Sensibility en wanneer ma’s slinkse planne beraam om ‘n goeie toekoms vir hul dogters te verseker.

Maar wie was hierdie briljante skrywer werklik? Al wat vir die nageslag behoue gebly het, is ‘n foto van ‘n kwaai oujongnooi wat met ‘n kappie op haar kop na die kamera gluur. Een van haar niggies het egter gesê dat daardie foto glad nie die ware Jane wys nie. Mense se opinie van haar verskil soos dag en nag, maar almal was dit eens dat haar oë soos okkerneute gelyk het, dat haar bruin hare krullerig was en dat sy nie ‘n vaal gelaatskleur gehad het nie. Sommige mense het gesê sy was mooi, maar nie almal het so gedink nie.

Jeug

Jane Austen is op 16 Desember 1775 in die Steventon-pastorie in Hampshire, Engeland gebore. Sy was die sewende kind en tweede dogter van George Austen, predikant van die Steventon-gemeente, en Cassandra Leigh, die niggie van die hoof van Balliol College in Oxford.

Haar geboortejaar was die begin van ‘n onstuimige tyd in Engeland, want dit was op die vooraand van die Amerikaanse en die Franse Rewolusie. Hierdie gebeure wys glad nie in Jane Austen se skryfwerk nie. Sy was toe nog salig onbewus van enige historiese gebeure en is op drie maande deur haar pa in die klein, middeleeuse kerkie in die dorpie, Steventon, gedoop.

Mnr en Mev Austen se gesin het vinnig uitgebrei en al was hulle deel van die hoër-middelklas, moes hulle planne beraam om genoeg te verdien. Kamers is verhuur aan seuns wat deur George Austen afgerig is om later aan die Universiteit van Oxford te studeer. Jane was as jong meisie glad nie gepamperlang nie en het saam met die seuns krieket gespeel en in die gras rondgerol. Haar onderrokke was dikwels vol modder, net soos Katherine Morland in Northanger Abbey.

Haar moeder se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Sy het ‘n huishouding met ten minste elf energieke kinders behartig terwyl sy terselfdertyd pastoriemoeder gespeel het en omgesien het na ‘n melkery en pluimveeboerdery. Om dit alles gelyktydig te kon hanteer, het sy al haar kinders van drie maande ouderdom af na ‘n vrou in die dorp gestuur vir ten minste ‘n jaar. Die kinders is eers as kleuters na hul ma teruggestuur. Hierdie gedwonge skeiding verduidelik waarskynlik waarom Jane baie nader was aan haar ouer suster, Cassandra, as aan haar ma.

Gesinslewe

Die lewe in die Austen-huis was gelukkig en intellektueel stimulerend. Gesinslewe was baie belangrik vir dominee Austen omdat hy ‘n weeskind was en al sy kinders aangemoedig het om met hul breine en talente te woeker. Toe Jane begin skryf en Cassandra begin verf, het hy duur papier gekoop waarop die twee kon werk. Al agt die Austen-kinders het dit oorleef, wat eintlik ongewoon was vir die tyd. Party van hulle was later uiters suksesvol. Die Austens kon moeilike besluite deurvoer, soos om hul tweede seun George, wat ‘n ernstige gebrek gehad het, na ‘n ander dorp weg te stuur om van vergeet te word.

Die ontwakende skrywer

Jane was nie die eerste of enigste skrywer in haar familie nie. Haar ma het soms snaakse versies geskryf en haar oudste broer, James, toneelopvoerings vir die familie en bure en later selfs sy eie tydskrif uitgegee toe hy in Oxford was. Al die Austens het lekkerlees briewe vir vriende en familie geskryf. Jane het in ‘n brief gesê, “At once expensively and nakedly dress’d” toe ‘n lid van die aristokrasie ‘n gewaagde Regency-styl rok gedra het. Na besoek van ‘n vervelige gesin het sy geskryf: “They came, and they sat, and they went.”

Jane se eerste stories en opvoerings was waarskynlik ‘n gevolg van haar broer se pogings. Aanvanklik het sy baie humor in haar skryfwerk gebruik en die taalgebruik was tipiese seunstaal, want dis wat sy geken het.

George Austen het moontlik skryftalent raakgesien, want hy het in 1797 Jane se eerste volledige verhaal, wat later Sense and Sensibility geword het, by ‘n Londense uitgewer ingedien. Die boek was afgekeur, maar is anoniem in 1811 uitgegee en het goeie resensies gekry.

Liefde

Jane het baie gehou van dans en daar was nooit ‘n tekort aan dansmaats by enige bal wat sy in Steventon bygewoon het nie. Tussen haar neefs, die huurders en die seuns in die buurt het sy baie jongmans geken, maar nie op een van hulle verlief geraak nie. Net na haar twintigste verjaardag het sy vir die eerste en waarskynlik die enigste keer verlief geraak op Thomas Lefroy, wat vir sy oom en tannie, bure van die Austens, kom kuier het. Met sy regsgraad van Trinity College in Dublin was hy ongetwyfeld Jane se gelyke wat intelligensie en sterkte van karakter betref, en Jane kon in haar briewe aan Cassandra nie uitgepraat raak oor hom nie.

Die twee het by drie balle openlik vir mekaar ogies gemaak terwyl hulle gedans het, maar Tom se tante het dit raakgesien en hom weggestuur omdat hy, nes Jane, geen geld gehad het nie en afhanklik was van die vrygewigheid van ‘n ryk oom. Niemand kan verseker sê of Tom regtig lief was vir Jane nie, maar hy het hom later in ‘n gelukkige (en finansieel voordelige) huwelik begewe. Jane het nooit weer aan trou gedink nie en haarself op haar skryfwerk toegespits. In Persuasion, die laaste boek wat sy geskryf het en wat net na haar afsterwe gepubliseer is, bepleit sy jong liefde en dat jong verliefdes die toekoms eerder moet vertrou as om versigtige keuses te maak.

Bath

Jane was baie lief vir haar huis en die velde en woude rondom Steventon. Toe haar ouers uit die bloute aankondig dat hulle na die gewilde rusoord, Bath, sou verhuis om af te tree, het die ongelukkigste tyd in Jane se lewe aangebreek. Sy het niks gehou van die geroesemoes van die stad en die ewige soeke na welvarende, hubare mans nie en het die platteland baie gemis. Gedurende hul verblyf in Bath kon sy glad nie skryf nie en het moontlik aan depressie gely.

Oplaas weer gelukkig

Na die dood van hul pa het Jane en Cassandra en hul broer Frank, wat toe ‘n admiraal in die Britse vloot was, ‘n huis gedeel. In 1809 het Edward, ‘n welvarende broer, ‘n ruim kothuis op sy hoewe naby Chawton, nie ver van haar geliefde Steventon nie, gratis aan die susters beskikbaar gestel. Toe sy uiteindelik weer in vrede kon werk, skryf Jane vyf van haar grootste werke kort na mekaar. Almal het goeie resensies ontvang en goed verkoop en vir die eerste keer in haar lewe het Jane haar eie geld gehad. Sy was steeds onbekend omdat al haar werke anoniem gepubliseer is.

Siekte en dood

Jane het vroeg in 1816 begin siek voel en het algaande verswak tot haar afsterwe in Julie 1817. Niemand weet verseker wat sy makeer het nie, maar die meeste kundiges dink dat sy aan Hodgkin’s lymphoma gelei het, wat deesdae omtrent deurgaans geneeslik is. Cassandra het haar liefderik versorg en na haar afsterwe aan die familie geskryf: “I have lost a treasure, such a sister, such a friend as never can have been surpassed.” Jane is in Winchester Cathedral deur hartseer familie en vriende begrawe. Sy was nie besonder suksesvol in haar leeftyd nie, maar haar gewildheid as skrywer neem steeds daagliks toe en dit lyk nie of dit gou gaan afneem nie.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *