Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

IS JY ‘N SUID-AFRIKANER WAT NOU IN AUSTRALIË WOON?

IS JY ‘N SUID-AFRIKANER WAT NOU IN AUSTRALIË WOON?

deur GILLIAN NATHAN

Ek besef nou, nadat ek vyf jaar gelede uit Suid-Afrika na Australië verhuis het, dat om alles wat bekend is agter te laat teenoor die opwinding van ‘n nuwe avontuur, ‘n tweesnydende swaard kan wees. Die hele proses is soms uiters oorweldigend.

Aan die begin was dit senutergend om my pad deur die stad te vind en selfs inkopies te doen, laat staan nog die ingewikkelde nuwe belastingwette te verstaan. ‘n Kort oorsig van hoe die belasting in Australië werk, kan dalk nuttig vir nuwe aankomelinge wees.

Die Australiese finansiële jaar strek van 1 Julie tot 30 Junie die daaropvolgende jaar. Jy moet vir ‘n Tax File Number (TFN) aansoek doen sodra jy in die land aankom. As jy ‘n salaris of loon verdien, sal jou werkgewer die belasting van jou salaris aftrek en namens jou aan die ATO oorbetaal. Jy kan die Tax Free Threshold-opsie kies as jy wil.

Jy sal ‘n Payment Summary (soos ‘n IRP5) in Julie ontvang wat jou jaarlikse verdienste en die hoeveelheid belasting wat jy betaal het, aandui. Normaalweg word jou werkgewer verplig om bydraes te maak tot die Superannuation Fund (soos ‘n pensioenfonds) van jou keuse teen 9.5% (tans) van jou gewone inkomste.

Inkomste wat deur individue verdien word, word teen progressiewe koerse van tussen 0%-45% gehef, plus ‘n Medicare-heffing van tot  2%. Jy betaal ook ‘n Medicare-heffingtoeslag (surcharge) van 2% as jy meer as ‘n sekere bedrag verdien en nie voldoene private mediesesorgdekking het nie. Jy kan self jou belastingopgawe voor 31 Oktober jaarliks indien. As jy dit aanlyn wil doen met myTax (soos SARS e-filing), het jy ‘n myGov-rekening nodig wat met die ATO ingeskakel is.

As jy ‘n onderneming in Australië bedryf, het jy ‘n Australian Business Number (ABN) nodig. Dit is ‘n unieke 11-syfergetal wat jou onderneming identifiseer. Die ABN moet op alle fakture wees wat jy uitreik.  Jy kan op enige tydstip gratis aansoek doen vir ‘n ABN deur die Australian Business Register-webblad. As jy ‘n enkel-handelaar is, sal die ABN in jou naam uitgereik word. Jy moet jou besigheid se naam by ASIC registreer as jy nie onder jou eie naam wil handel dryf nie. Jy mag meervoudige besigheidsname aan ‘n enkele ABN verbind.

Jy moet ‘n maatskappy oprig wanneer jy as ‘n maatskappy wil handel dryf. Jy is nie verplig om jou handelsnaam te registreer as dit dieselfde as jou maatskappy se naam is nie. Alle inkomste wat deur maatskappye verdien word, word tans teen 30% of 27.5% belas, afhangende van die jaarlikse omset. Belangrike begrippe waarvan jy moet kennis dra, is GST, BAS en PAYG.

GST (Goods and Services Tax) is ‘n belasting wat gehef word op alle verkope en aankope wat jy in jou besigheid aangaan. Sekere verkope en aankope is vrygestel van GST, maar in die algemeen word 10% GST op alle saketransaksies gehef. Jy moet jou besigheid registreer as jou bruto verkope $75 000 of meer gedurende ‘n finansiële jaar beloop.

As jou onderneming vir GST geregistreer is, moet jy jaarliks, kwartaalliks of maandeliks ‘n BAS (Business Activity Statement)-opgawe indien, afhangende van die verslaggewingsverpligtinge van jou onderneming.

PAYG withholding word van jou personeel se bruto salarisse afgetrek en maandeliks of kwartaalliks aan die belastingkantoor oorbetaal deur die BAS- of IAS-opgawe, afhangende van die bedrag wat jy in salarisse uitbetaal.

Sodra jou onderneming wins begin toon, begin jy op hierdie wins belasting betaal. PAYG-inkomstebelastingpaaiemente word deur die BAS-opgawe betaal. Jou besigheid word in die PAYG-inkomstebelastingpaaiementstelsel opgeneem nadat jou besigheid se eerste belastingopgawe ingedien is. Belasting op sake-inkomste word in die jaar waarin dit verdien is, via jou kwartaallikse BAS-opgawe betaal.

Hierdie is net ‘n kort weergawe van die belastingstelsel in Australië. Daar is natuurlik nog belangrike aspekte soos kapitaalwins, gefrankeerde dividendkrediete, belasting op byvoordele en vele meer . . . (sug!)

Kontak my by gillian@simplesolutionsaccounting.com.au as jy ‘n rekenmeester nodig het wat jou kan help en terselfdertyd touwys maak.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *