Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

WANNEER JOU KINDERS DIE HUIS VERLAAT . . .

WANNEER JOU KINDERS DIE HUIS VERLAAT . . .

deur TANIA STEYN

Ons 19-jarige seun het onlangs die huis verlaat om sy lewenslange droom van ‘n loopbaan in die weermag te verwesenlik. Ondanks die feit dat ons altyd geweet het dat hierdie dag eendag sou aanbreek, was ons nie voorbereid op die hartseer wat die groet en sy afwesigheid in die huis sou meebring nie. Ons dogter was in jaar 12 en ons het geweet dit sal nie lank wees voor sy ook die nessie moet verlaat nie.

Ek was nog altyd ‘n geesdriftige leser en ek lees elke dag hope blogs, posts, koerante, tydskrifte en boeke. Dit het my opgeval dat daar bitter min verwysing is na ander ouers se ervaring in soortgelyke situasies. Wanneer ons met vriende kuier, is dit ook selde ‘n onderwerp van bespreking.

In my geval was my hart nie voldoende voorbereid op die pyn wat die afwesigheid van ‘n kind meebring nie. Ek het besef onvermydelike ontwikkelingsfase na wasdom is noodsaaklik, maar dit het die situasie nie vir my makliker gemaak nie.

Toe ek as tiener die huis verlaat het, was ek gefokus en so opgewonde oor die wonderlike avonture wat die lewe bied, dat ek nie vir ‘n oomblik stilgestaan en die moontlikheid oorweeg het dat my ouers moontlik besorg was oor wat die toekoms vir my inhou of dat hulle oor my weggaan getreur het nie.

As jong dogter het ek ook nie veel aandag gegee aan die verpligte militêre diensplig waardeur die seuns moes gaan nie. Ek het net gedink dat hulle besonder goed in hul weermaguniforms gelyk het. My seun se vertrek het my laat besef wat elke ma in Suid-Afrika daardie jare moes deurmaak. My man en ons vriende het al genoeg staaltjies om die braaivleisvuur vertel oor hul weermagdae sodat ek dit nou beter verstaan . . . maar dit troos ongelukkig nie ‘n seer moederhart nie.

Miskien is dit makliker wanneer ‘n kind vanuit die huis studeer of ‘n loopbaan begin sodat die afskeid meer geleidelik is. Elkeen kry dan ‘n geleentheid om teen sy eie pas by die nuwe ouer-kindverhouding aan te pas en vir die oorgangsfase voor te berei.

Dit het my ‘n ruk geneem om te besef dat ons eie ouers seker ook maar swaargekry het, veral toe ons besluit het om te emigreer. Ek en my man was albei byna 40 jaar oud toe ons na Australië verhuis het. Ons het ons ouers, broers en susters, familie en vriende agtergelaat, soos wat migrante-families maar doen, om ‘n beter lewe in ‘n ander land na te streef.

Met die inpak was daar so baie wat gedoen moes word dat ons nie juis kon wonder oor hoe ons besluit die mense naaste aan ons sou raak nie en watter gevoel van verlies dit aan ons ouers besorg het nie. Dit was eers heelwat later, toe ons in ons nuwe blyplek ingetrek het en dinge rustiger geword het, dat ons die omvang van ons besluit kon begryp. Toe eers kon ons met die rouproses begin . . .

Elkeen beleef die migrasieproses waarskynlik verskillend. Vir sommige is dit ‘n maklike proses terwyl ander jare lank emosioneel wipplank ry voordat hulle gelukkig en gevestig voel in hul nuwe land. Ander kom nooit reg nie en trek eerder terug.

As jou kinders steeds in die huis woon, probeer om jouself voor te berei vir die dag wanneer hulle die huis gaan verlaat, want daar is regtig iets soos ‘n leënessindroom. Dit is deel van die proses van kinders grootmaak. Maak seker dat jou kinders weet dat jy hulle onvoorwaardelik liefhet en dat hulle altyd welkom by jou huis is.

Tania Steyn en haar gesin het in 2008 van Pretoria na Melbourne verhuis. Sy vervleg haar kennis van arbeidsterapie, loopbaanontwikkeling en berading om ander te help om groot aanpassings soos byvoorbeeld die migrasieproses en oorgangsjare, te verwerk. Gaan na www.blossomintoyou.com.au vir meer inligting.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *