Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

Manjifieke Malbec

Manjifieke Malbec

deur PAPSAK

Omdat Malbec-druiwe later as die meeste druifsoorte ryp word, het dié druifsoort se gewildheid in Europa getaan. Malbec-druiwe het ‘n dun skil en het meer son en hitte nodig om ryp te word as beide Cabernet Sauvignon en Merlot.

Malbec-druiwe word eers in die middel van die druiweseisoen ryp en dit dra by tot die kompleksiteit van menige Claret-versnitwyne – ‘n diep wynrooi kleur, oormaat taniene en ‘n smaak wat sterk aan pruime herinner. Soms, veral in streke waar dit tradisioneel verbou word, word dit nie in wingerde gegroei nie, maar in bosse (bush vines) gekultiveer volgens die wynglasmetode (goblet system). Dan word ‘n relatief lae opbrengs van ongeveer ses ton per hektaar nagestreef. Die wyne is ryk, donker en sappig, met geure van swartkersie, pruim, framboos, swartbessie, bloubessie en kakao, melksjokolade, molasse, leer, tabak en mokka.

Die druif se gewildheid neem tans toe, veral in Argentinië, waar 75% van die wêreld se Malbec gepluk word. Afgesien van Argentinië, word Malbec ook in Frankryk en die VSA (Kalifornië, Oregon en die Washington-state) verbou, maar dit word ook op groot skaal in Australië vervaardig. In Suid-Australië word heerlike versnitte met Cabernet gemaak en jy sal ook interessante Bordeaux-versnitte in Nieu-Seeland se rooiwyngebied kry. Die wyn het ‘n matige suurheid en taniene, en die druiwe produseer ‘n vol, aangename wyn wat goed verouder. In Frankryk word Malbec meestal met Petit Verdot (nog een van my gunstelingwyne) en Merlot versnit.

Wanneer jy ‘n bottel oopmaak, herinner die wyn, met sy jeugdige energie en ongekompliseerde karakter soos ‘n ambisieuse student, sterk aan ‘n nouveau-wyn. Die wyn kalmeer nadat dit aan lug blootgestel word en verander dan in ‘n redelik elegante, vol, geïntegreerde wyn om te geniet. Jy behoort minder as A$10 per bottel op te dok as jy ses bottels op ‘n slag by die bekende Australiese groothandelwynwinkel aanskaf.

Malbec gaan goed saam met vleise wat min vet bevat, soos volstruis en kalkoen, sagte bloukaas en sampioene.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *