Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

GELUK IS ‘N NEWEPRODUK

GELUK IS ‘N NEWEPRODUK

deur CHRIS CRAUSE

Ons het nie na meer geluk gaan soek nie. Ons het genoeg geld uit ‘n besigheid gemaak en dit volgens plan vir die oudag belê. Ons het ons huisie by die see gekoop. Die plaaslike gemeente het versigtig navraag gedoen of ek nie sou belangstel in die opkomende vakature nie. Ons was nog nie seker wat die volgende stap sou wees nie, toe ons die drastiese besluit neem om te luister na my laaste preek wat ek in Perth gelewer het: “Stop postponing your bucket list!” En ons besluit om die 4×4 en die woonwa te koop en rondom Australië te gaan toer . . . vir ‘n jaar . . . sonder ‘n inkomste. Dis mos die groot Aussie-droom. 100 000 Aussies doen dit elke dag. Die verskil is egter dat die meeste mense dit uitstel tot ná aftrede. Sommige wag te lank. Toe besluit ons om op te hou uitstel en te gaan beleef. Ek het net te veel begrafnisse gelei waar mense my vertel het van drome wat onvervuld gelaat was.

En 25 000 km later is ons terug waar ons begin het, en ons vind dit byna onmoontlik om vir ander te vertel hoe ingrypend dit ons verander het (ek het ‘n effense poging aangewend met ‘n blog wat ‘n duisend lesers gehad het).

Hoe beskryf ‘n mens die adrenaliengolf wat jy beleef wanneer jy alleen swem op 80 Mile Beach (40 km van enige ander mens af), en ‘n 40 cm lange haaivin swem tussen julle deur? Of hoe dit is wanneer ‘n dosyn kaketoes uit jou hand eet wat jy by die woonwavenster uitsteek? Of hoe dit voel om met sononder op ‘n berg in Kakadu te sit en uitkyk oor Arnhemland waar net 16 000 mense in ‘n gebied van 97 000 km² woon? Hoe beskryf ‘n mens die wonder van ‘n echidna of platipus in sy natuurlike habitat? Wat oortref die nasionale parke waar jy vir so min as A$10 per nag kan kampeer of in die 5 000 ongelooflike “free camps” langs riviere en in die Outback?

Iemand verduidelik eendag op die radio hoe om die verskil tussen ‘n hond en die mens se reuksintuig te probeer verstaan. Hy vergelyk dit toe met hoe dit is om ‘n winkel in te stap met die ongelooflike geure van gebak of parfuum om jou. Na ‘n rukkie van verwondering oor die geur van koffie of sjokolade, raak ons egter die geur gewoond en ons kan in die winkel gaan werk sonder om dit te ruik. ‘n Hond raak egter nooit daaraan gewoond nie. Sy reuksintuig bly altyd op daardie vlak van sensoriese oorlading. Ek dink dis hoe dit vir ons was om in die bos te kampeer. ‘n Mens word eenvoudig nooit moeg vir die klank van die voëls of die geure en klanke van die bos, strande en klowe nie. Ons het gereeld ons mantra herhaal: as ons môre sou sterf, was dit alles die moeite werd. Mettertyd kon ons selfs meer as 200 voëlspesies uitken (baie suiwer op gehoor) en het eenkeer in ‘n nasionale park gaan kampeer net om Gang-Gang kaketoes te sien. Ons het eredienste bygewoon saam met die Mowanjum Aborigine-gemeente in ‘n gebou sonder mure (naby Derby), en gesmul aan die gasvryheid van lidmate vanTonga en Samoa in Mt Isa. Saam met Aussies op ‘n reuse “cattle station” het ons “damper” om die kampvuur geëet terwyl ons na “bush poetry” luister.

Ons het doelbewus sonder vooruitbesprekings gereis. Wanneer ‘n parkbestuurder my vra, “How many nights?” wou ek nog altyd kon antwoord, “I’ll let you know, mate”, en ek het! Iemand sê eenkeer vir my: “Jy weet jy leef regtig as jou kinders al oor jou begin bekommerd raak omdat jy so min oor die toekoms ‘worrie’!”

Dit bring my terug na my gekose tema. Ek dink ware geluk is ‘n neweproduk van eenvoudig net leef en beleef vir wat sin maak. Of soos Richard Branson hierdie week skryf,“Happiness should not be a goal, it should be habit.” Niemand kan die resep vir geluk vir jou met ‘n Whatsapp aanstuur nie. Jy moet waag, anders dink en weer vra hoekom jy dinge doen wat jy tans doen. Is ‘n miljoen genoeg? Of twee miljoen? Of is dit irrelevant? Was dit nie veel belangriker om vir Sanity (my espressomasjien se bynaam) saam te neem nie? Of is dit dalk belangriker om te vra: Wie is saam met jou op reis op hierdie pad van die lewe, en kan jy uit jou groewe ontsnap?

Iemand skryf iewers dat die natuur gratis terapie is. Vir ons was dit – om God te beleef in die natuur. Dit was die Terapeut wat ons opnuut geseën het met nuwe energie en geluk. Wat ‘n voorreg. Miskien wag jou terapie op ‘n ander plek om ontdek te word? Wat belangrik is, is dat jy ophou soek op plekke wat nul of negatiewe bydraes tot jou lewe maak.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *