Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

DIT IS NOOIT TE LAAT OM ‘N VERSKIL TE MAAK NIE

DIT IS NOOIT TE LAAT OM ‘N VERSKIL TE MAAK NIE

‘n Oplettende en sorgsame geneesheer in die Outback van Queensland het nie net die lewe van een van sy pasiënte verleng nie, maar ook toekomstige pasiënte met soortgelyke probleme gehelp deur ‘n unieke uitvindsel te ontwikkel.

Dr. Gawie Roux van Toowoomba was baie jare lank die algemene praktisyn van Rose en haar man, Louis. Na Louis se afsterwe het Rose op 89-jarige ouderdom dimensie ontwikkel. Hy vertel:

“Ek was baie jare lank die algemene praktisyn van Rose en haar man, Louis. Na Louis se afsterwe het Rose op 89-jarige ouderdom dimensie ontwikkel.

“Sy is hierna in die sorg van ‘n inrigting vir verswakte bejaardes by die Rural Aged Care Facility (RACF) in Queensland geplaas. Alhoewel Rose steeds goeie gesondheid geniet het, het sy Dysphagia ontwikkel, ‘n toestand wat veroorsaak het dat sy soms klein hoeveelhede vloeistof geaspireer (deur haar longe ingeasem) het. Wanneer sy kos of vloeistof moes inneem, het sy dit weggeblaas sodat haar versorgers en die kamer vol kos was. Sy is in die plaaslike hospitaal opgeneem vir aspirasielongontsteking en die hospitaal het besluit dat Rose vandaar slegs palliatiewe sorg sou ontvang omdat die mediese personeel haar nie voldoende kos op ‘n veilige manier kon voer nie. Omdat sy die kos weggeblaas het, het hulle gemeen dat Rose depressief was en wou sterf.

“Haar seun, Ron, het hiervan te hore gekom en my met vrae oor palliatiewe sorg gepeper. Ek het verduidelik dat sy geen verdere medikasie of mediese ingryping sou ontvang nie en dat sy toegelaat sou word om sonder pyn te sterf. Ron was nie oortuig nie. Volgens hom was sy ma nie depressief nie en hy wou nie dat sy morfien pleks van kos gevoer word nie.

“Ek het daarna besluit om Rose self te voer, maar agtergekom dat sy, ondanks groot dors en honger, nie haar mond kon oopmaak nie. Ek het besef dat sy waarskynlik ‘n refleks ontwikkel het waar die spiere van haar kakebeen onwillekeurig in ‘n spasma gaan (trismus) om haar lugweg te beskerm.

“Ek het gewonder of haar primitiewe orale reflekse van soek-en-suig nog teenwoordig sou wees, want as sy kon suig voordat sy sluk, sou sy veiliger kon sluk. Ek het ‘n gat van 5 mm in ‘n tepel wat vir kalfies gebruik word, gemaak, dit gesteriliseer, heuning daaroor gesmeer en die proses aan haar verduidelik. Vandaar was dinge maklik. Ek het kos (‘n verdikte vloeistof) aan die agterkant van die tuit gesit en Rose kon toe uiteindelik weer eet.

“Hierna het versorgers haar met die kalftepel gevoer en het sy gou beter gevoel. Na ‘n week kon sy vryelik asemhaal sonder enige geraas en ek kon byna geen afskeidings in haar longe met my stetoskoop meer hoor nie.

“Ongelukkig het dinge daarna begin versleg nadat een van die versorgers ‘n klag gelê het by die DON (Director of Nursing) dat dit onmenslik en vernederend was om ‘n ou dame met ‘n kalftepel te voer.

“Die DON was nie bereid om af te wyk van die Rules of Accepted Best Practice in Aged Care sonder gepubliseerde bewys dat my oplossing werk nie en instruksie gegee dat die palliatiewe sorg wat deur die staat se gesondheidsowerheid ingestel was, uitgevoer word.

“Ron was briesend omdat hy gevoel het dat my oplossing veel meer menslik was as om haar van honger te laat omkom.

“Hy het sy ma se voedingsorg oorgeneem en haar drie maande lank self gevoer totdat sy uiteindelik oorgeplaas is na ‘n ander instansie wat geen probleem gehad het om die taak by hom oor te neem nie. Rose het nog drie jaar daarna geleef.

“Ron was vasbeslote om die Aged Care Facility te dagvaar omdat hulle, na sy mening, nie hul pligsorg nagekom het nie. Ek het hom daaraan herinner dat dit uiters gevaarlik vir alle partye is as iemand buite die riglyne in ‘n gekontroleerde, moderne gemeenskap beweeg. Ek het hom terselfdertyd belowe dat ek die konsep kommersieel sou ontwikkel – en so is die RoseCup gebore . . .”

 

Dr Roux het geneeskunde aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Hy is getroud met Hannelie, wat destyds ‘n verpleegster was. Merise het met hom oor sy uitvindsel gesels.

WIE SAL DIE MEESTE BAAT VIND BY DIE ROSECUP?

Die RoseCup is ‘n hulpmiddel om pasiënte meer doeltreffend en veiliger te voer. Dit is die eerste voedingsopsie ter wêreld wat spesiaal gemaak is vir pasiënte wat verdikte vloeistowwe inneem deur ‘n slukaksie wat volg op ‘n suigaksie. Pasiënte wat vanaf die middelfase tot in die laaste fases van Dysphagia verkeer, sal die meeste voordeel hieruit trek. Dit sal egter ook pasiënte help wat in ‘n horisontale posisie gevoer moet word (soos om op die rug te lê) na afloop van ‘n operasie of na meervoudige beserings.

Ons het ‘n reeks aanhegsels en kleppe ontwikkel wat in alle stadiums van die probleem gebruik kan word. Daar is ‘n teelepel om mee te drink, ‘n wye suigaanhegsel, ‘n strooitjie-insetsel met ‘n balklep-aksie vir vloeibeheer asook ‘n X-klep wat die vloei van kos beheer vir die pasiënt wat agteroorlê.

WATTER GEVARE HOU DYSPHAGIA VIR PASIËNTE IN?

Twee uit elke drie mense wat aan Dysphagia ly, word nie gediagnoseer nie en hulle kan selfs sterf weens komplikasies van hierdie mediese toestand. Die toestand veroorsaak lusteloosheid, ontwatering, swak voeding, verstikking, aspirasie (die inasem van voedsel of vloeistof in die longe), longontsteking of selfs die dood.

Dit kom algemeen voor na ‘n beroerte, tydens dimensie, met verskillende kankers, neurologiese toestande en by verswakte bejaardes. Die simptome kan baie subtiel wees, waar die pasiënt minder praat en minder eet, keel skoonmaak terwyl hulle praat, speeksel wat in die mond opbou of kwyl, voedselreste in die mond nadat gesluk is, ‘n geraas in die longe tydens asemhaling, verstikking en longontsteking.

WAAR WORD DIE PRODUKTE VERKOOP?

Alle produkte is beskikbaar by www.lifemere.com. Mense in Suid-Afrika kan dit ook aanlyn bestel omdat LifeMere die patentreg vir Suid-Afrika besit.

WAT IS NUTRITASTE?

NutriTaste is a reeks verdikte maaltye wat lig is met ‘n  poeierbasis. Dit is smaaklik en  bevat baie voedingstowwe (energie, proteïen, vesel, vitamiene en minerale). Die maaltye is in ‘n laboratorium ontwikkel sodat die RoseCup doeltreffend en veilig is. Dit voorkom ontwatering en kan maaltye vervang of as ‘n aanvulling tot maaltye dien.

KAN DIE AANKOOPPRYS VAN MEDICARE OF PRIVATE GESONDHEIDSORG TERUGGEËIS WORD?

Dit is onwaarskynlik dat Medicare ooit toestelle vir Dysphagia sal finansier. Sowel die RoseCup as NitriTaste kan egter deur die nuwe NDIS (National Disability Insurance Scheme) geëis word.

WAT IS JOU BOODSKAP AAN MERISE-LESERS?

Daar is baie uitdagings in Australië, maar daar is ook groot geleenthede. Moenie dat die lewe by jou verbyglip en jou ontnugter, onvoorbereid en eensaam laat nie. Met goeie beplanning kan jy twee produktiewe lewens in die tyd van een geniet! Maak jou tweede loopbaan vriendeliker wat jouself, ander mense en jou beskikbare tyd betref. Lewe vir vreugde, liefde en vir God.

One Comment

  1. Merise, I read your article with great interest. Just LOVED reading in ‘suiwer Afrikaans’to help me improve my second language. What you wrote was so interesting for me as an Aged Care Worker here in Adelaide. I was so excited to come across your writing and would like to read a lot more!! I started off by reading an article about the intersting life of a kookaburra, a bird I’m so fascinated by and have also recorded to send back to my family in South Africa. I hope to read a lot more of your articles…so interesting! Thank you. I find your writing inspiring.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *