Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

Suurlemoen vir die koue

Suurlemoen vir die koue

deur Anna Celliers

As ou koning Louis XIV dit desjare in die koudste winters kon regkry, dan kan enige tuinier dit regkry. Hy het daar by sy luukse Paleis van Versailles ’n manier uitgedink om sitrusbome aan die lewe te hou deur sy lakeie te beveel om hulle in deftige bokse met wiele aan te plant, op sonnige dae uit te rol en saans weer in die kweekhuis te gaan bêre.

Om jou suurlemoenboom te beskerm teen erge koue, plant hulle in potte wat teen ryp beskut kan word. Tuiniers in meer gematigde klimaatstoestande kan hul suurlemoenbome natuurlik sommer direk in die tuin plant.

Die regte plantplek

Twee van die noodsaaklikste vereistes by die kweek van suurlemoenbome is volson vir goeie vrugproduksie en grond wat uiters goed dreineer. As daar enige twyfel oor die dreinering van jou tuingrond is – soos swaar kleigrond – moet jy liefs jou suurlemoenboom in ’n opgeboude bedding waarby kommersiële potgrond en kompos ingewerk is of in ’n groot pot in goeie potgrond plant. Deesdae kry ’n mens by kwekerye selfs potgrond wat spesifiek gemeng is vir die kweek van sitrusbome.

Moenie ’n jong boom te diep of te vlak plant nie. Dit moet in ’n plantgat of in ’n tuinpot geplant word presies op dieselfde diepte as wat dit in die kwekeryhouer staan. Berei plantgate deeglik voor met ’n mildelike hoeveelheid kompos en ’n groot handvol beenmeel.

Gee só water

Suurlemoenbome is nie watervrate nie en kan in die somer een keer ’n week deeglik natgelei word en al om die tweede week in die winter. Jong bome wat nog moet vestig en dié wat in potte groei, het meer water nodig na gelang van die weer. Gepotte bome kan eers uitdroog voor hulle water kry, maar moenie te lang tye droog staan nie. Die grootste sonde is bietjies-bietjies elke dag – die blare sal gou vergeel en afval, wat ’n teken van wortelvrot kan wees.

Oor snoei en bemesting

’n Vreeslike gesnoeiery (anders as by ander vrugtebome) is nie nodig nie. Dit word net soms gedoen om die boom mooi te vorm en netjies te hou. Verwyder net takke en blare wat beskadig is of tekens toon van siekte en besmetting. Dis beter om ’n snoeiskêr te gebruik as jy die vrugte oes as om hulle hardhandig af te trek.

Met jong tuinboompies wat nog moet anker gooi, is bykomende bemesting vir die eerste jaar of twee nog nie kritiek belangrik nie, maar gevestigde bome is taamlik gulsige eters. Om ’n goeie oes van die songeel vrugte te verseker, moet jy vier maal per jaar – in Julie, September, Januarie en April – voed met ’n gebalanseerde stadig vrystellende misstof soos 3:1:5 of 8:1:5. Die bome het stikstof nodig vir gesonde groei en vrugvorming, fosfor vir sterk en gesonde wortels en kalium om gehaltevrugte te lewer. Sitrusbome in potte, vind, afgesien van bogemelde voedingsprogram, ook baat by ’n wateroplosbare tonikum soos Trelmix met mikro-elemente, wat in die lente en somer bykomend toegedien kan word.

Variëteite en gebruike

Eureka is ’n doringlose suurlemoenboom met pitlose gladdeskilvrugte wat ’n meer gematigde klimaat verkies. Dit produseer byna regdeur die jaar vrugte as die boom goed gevestig is. Meyer is ’n kleiner boom met sappige gladdeskilvrugte. Dit is meer gehard en geskik vir potte. Ook dié boompie is selde sonder bloeisels en met vrugte wat ideaal is vir ’n skemerkelkie.

Die Kaapse growweskilsuurlemoen dra vlesige en geurige vrugte met ’n dik, growwe skil en is ’n gunsteling onder kokke en bakkers.

Die Tahiti-lemmetjie dra klein vrugte met ’n gladde skil. Dis suurder as suurlemoene, maar baie sappig en geurig.

Oestydwenke

  • Dit is beter om ryp suurlemoene aan die boom te laat hang as jy dit nie dadelik gaan gebruik nie.
  • As hulle wel ’n ruk in ’n vrugtebak moet lê, moet jy die vrugte pluk met ’n stukkie stingel aan. Dit keer dat die vrugte gou verrot.
  • Gee die bome genoeg water as hulle vol bloeisels is en die vruggies begin vorm. Hou die bome effe droër wanneer die vrugte uitgeswel het en begin verkleur. ’n Bietjie droogtestres verbeter die suikergehalte en sappigheid.

Hierdie artikel is goedgunstig deur Netwerk24 aan Merise verskaf.

Kry al die jongste Suid-Afrikaanse en internasionale nuus in jou moedertaal op Netwerk24. Ons is die aanlyntuiste van al die gunsteling- Afrikaanse koeranttitels soos Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport. Jy kan kies en keur uit ons inhoud – van lipleklekkerresepte tot vuurwarm debatte. Sluit aan by die beste gesprek in Afrikaans – Netwerk24 – teen slegs R99 per maand of stel dit GRATIS op die proef vir 30 dae!

Klik op hier om te registreer.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *