Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

Sikloon Debbie is op pad na ons huis! Amanda Grobbelaar van Mackay vertel van hulle belewenis:

Sikloon Debbie is op pad na ons huis! Amanda Grobbelaar van Mackay vertel van hulle belewenis:

Hoe is dit om te weet dat ‘n vernietigende sikloon op pad is na jou huis? Volgens die weerburo kan stormsterkte winde van 185 kilometer per uur met rukwinde van tot 270 kilometer per uur verwag word in die kern van die storm. ‘n Storm “surge” (‘n wal seewater wat in die rigting van die kus net voor of saam met die storm beweeg) kan moontlik so hoog soos vier meter wees. Sikloon Debbie het Noord-Queensland se kuslyn by Bowen as ‘n kategorie vier-sikloon getref nadat dit die Hayman-eiland en Whitsunday-eilande geteister het. Volgens adjunk-kommissaris Steve Gollschewski , wat in beheer van die staat se rampreaksie-eenheid is, sal die sikloon na verwagting vir die volgende agtien ure as ‘n kategorie drie langs die kus af beweeg.

Ons het met Merise-leser Amanda Grobbelaar van Mackay gesels oor hoe dit met hulle gaan in hierdie moeilike omstandighede:

“Op die oomblik wag ons vir die sirene wat elke uur afgaan om te laat weet wanneer die jongste nuus weer beskikbaar sal wees op die radio”, sê Amanda. “Dit gaan maar rof hier, want die wind waai woes en dit sous behoorlik. Groot dele van Mackay is reeds sonder elektrisiteit. Sikloon Debbie sal na verwagting suidwaarts beweeg nadat dit die kus bereik het en kan skade tot by Hervey Bay berokken, wat 1000 kilometer suid van Mackay is”!

“Ons sit nou juis en kyk hoe die wind die dak van die buurman se patio oplig en losskeur. ‘n Boom is in ons seun se tuin ontwortel. Hy woon net vier huise van ons af”.

Die wal van die sikloon-oog, wat ‘n deursnee van 50 kilometer het, is tans so 150 kilometer noord van ons, by Airlie Beach. Dit is nie goeie nuus vir Mackay nie, want die meeste wind en reën is gewoonlik in die suidelike gedeelte van ‘n sikloon. Dit is die ergste weersomstandighede in jare in hierdie wêreld. Die vorige woeste sikloon was in 1918 toe Mackay platgewaai was”!

“Dinge was gister baie moeilik. Ons dogter en skoonseun moes hul huis ontruim en het by ons oornag. Bome was omgewaai en het op huise geval selfs voordat die storm baie erg was. Die lug het skielik ‘n dreigende geel/grys-kleur geword en die wind het kwaai gewaai. Ek was nogal baie beïndruk met hoe buigbaar ons palmbome werklik is! Sterk winde het heinings in Mackay omgewaai en die Bruce-hoofweg, lughawens en skole was gesluit. Twintigduisend mense in Mackay was gevra om hul huise te ontruim. Teen omtrent vyf uur gistermiddag het dit skielik donker geword en dit was asof ‘n wolkbreuk op ons neergereën het. Daar was verkeersknope op die paaie soos mense probeer het om uit die dorp te kom. Ongelukkig was ‘n dame betrokke in ‘n noodlottige ongeluk naby Proserpine, nie ver van Airlie Beach af nie, weens die swak weer”.

“Die silwer randjie in ‘n tyd van so ‘n groot ramp is die ware “Aussie mateship” wat ons beleef. Bure gee regtig om vir mekaar en ruil idees uit hoe om die ramp te oorleef. Soms kan dié wenke selfs lewens red. ‘n Goeie wenk wat ons ontvang het was om ‘n matras of kussings teen ons motorhuis se deure te pak en dan die motor daarteen te stoot om te keer dat die motorhuisdeure deur die wind uitgeruk word”.

“Een van die grootste gevare wat die sikloon inhou is die reuse storm”surge” (wal met water) wat saam met die sikloon beweeg. Dit het gister kwaai gereën en ons kan moontlik 400mm reën per dag vir die volgende paar dae kry.”

“Een iets wat ek geleer het van die mense van Mackay is dat hulle nie sommer tou opgee nie”! Hulle sal wag dat die storm verbygaan en dan sal almal inspring om skoon te maak en dinge weer reg te maak. Almal het besems en emmers en hulle weet hoe om skoon te maak”!

“Ter voorbereiding van die sikloon het ons vensters geplak en gesorg dat ons genoeg water en nie-bederfbare kos in die huis het. Ons het die huis se geute skoongemaak en alles wat moontlik deur ruite gewaai kan word, in die skuur gesit. Ons het die bome gesnoei, al ons voertuie in die motorhuis gesit en ons boot goed geanker”.

“En ons het gebid”!

“Ons was aangeraai om water in die bad te sit en watersuiweringstablette aan te skaf omdat die water moontlik vir ‘n hele ruk ondrinkbaar sal wees weens dooie diere, kraglyne wat omgewaai is, riool, ens. Ons het seker gemaak dat ons genoeg batterye het vir die radio en genoeg brandstof het vir ingeval ons moet ontruim en ook om die kragopwekkers aan te dryf. Gelukkig was ons huis gebou om ‘n kategorie vier-sikloon te kan weerstaan.

“Die volgende vier-en-twintig uur is deurslaggewend. As sommige van die voorspellings waar word, gaan dinge baie moeilik word. Baie dankie dat julle ons in die geloof bystaan, Suzette en die Merise-span”!

Amanda is die skrywer van die inspirerende boek book ‘The Amanda Grobbelaar Story – Anchored in the Storm, a journey of faith, hope, and love”, wat die storie vertel van hoe sy teen ‘n uitmergelende siektetoestand baklei. Jy kan die boek hier koop.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *