Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

Ek het dit vir my oom gedoen . . .

Ek het dit vir my oom gedoen . . .

Talle Suid-Afrikaners het onlangs saamgetreur oor die heengaan van een van die land se grootste rugbyspelers, die voormalige Springboklosskakel, Joost van der Westhuizen. Joost het aan die vernietigende Motorneuronsiekte gely en het sedert 2011 ‘n dapper stryd teen die siekte gevoer. Joost was Merise-leser Sumi Botha se oom en sy het ‘n paar jaar gelede ‘n liedjie vir hom geskryf, “Mr. No. 9”. Die liedjie was baie gewild en was ook die temalied van die film oor Joost se lewe. Merise het met Sumi gesels oor haar optrede tydens Joost se gedenkdiens by Loftus Versveld in Pretoria.

Hoe het jy gevoel toe jy gevra is om jou liedjie, “Mr. No. 9”, by hierdie spesiale geleentheid te sing?

Ek het terselfdertyd geëerd en bang gevoel. Ek het geweet dat dit ‘n baie moeilike, maar nederige (“humbling”) oomblik vir my gaan wees.

Wat het deur jou gedagtes gegaan terwyl jy na die verhoog gestap het?

Moenie struikel nie, moenie huil nie, maak jou familie trots op jou. Onthou die woorde!

Hoe het jy dit reggekry om jou emosies te beheer?

Met diep asemteue en die wete dat dit regoor die wêreld gebeeldsend gaan word. Ek wou dit vir oom Joost doen en ek wou dit goed doen. Daarom het ek myself die hele dag so kalm as moontlik gehou sodat my emosies my nie in die steek sou laat nie. Ek het myself nie toegelaat om te huil tot aan die einde van die optrede nie.

Jou liedjie het groot opslae op sosiale media gemaak en meer as 300 000 mense het daarna gekyk! Hoe het jy daaroor gevoel?

Dit was ‘n bittersoet ervaring. Dit het nog nooit voorheen gebeur dat een van die liedjies wat ek geskep het so ‘n “groot” aanhang gekry het nie. Dit was meer as waarvoor ek ooit kon hoop of droom. Maar die rede waarom die lied soveel aandag gekry het, het my baie hartseer gemaak. Ek is steeds dankbaar, want ek weet dit is wat oom Joost vir my en “Mr No. 9” wou gehad het.

Hoe was jou ontvangs in Suid-Afrika? Ons het op een van die YouTube-video’s gesien dat iemand opgemerk het dat hulle bly was dat jy nie met ‘n Australiese aksent praat nie. Is dit vir jou belangrik om jou Suid-Afrikaanse aksent te behou? Vertel ons meer.

Almal in Suid-Afrika was gaaf en ondersteunend. Ofskoon ek al so lank in die buiteland woon, verstaan mense dat Suid-Afrika steeds my geboorteland in my hart is en dat ek nooit voeling verloor met wie ek is en waar ek vandaan kom nie. My Suid-Afrikaanse aksent is nie sterk nie, want my ouers praat net Afrikaans met ons en ons het nooit hul aksent waarmee hulle Engels praat, aangeleer nie. Ek glo nie my aksent is van belang nie, solank dít wat ek sê ‘n ware weerspieëling is van wie ek is.

Jy het ‘n foto van ‘n tatoe, J9, op Facebook geplaas. Is dit joune? Wat is die storie agter hierdie tatoe?

Ek het dit op die dag van oom Joost se begrafnis laat doen om eer aan hom te betoon en te wys hoe trots ek op hom is vir wie hy as persoon was. Nadat hy met MNS (Motorneuronsiekte) gediagnoseer is, het hy ‘n liefdadigheidsorganisasie, die J9 Foundation, gestig om MNS-lyers en hul families finansieel by te staan. Hul kenteken is nou vir ewig gegraveer op die binnekant van my linkerenkel. Die organisasie gee baie mense hoop en beteken vir talle ‘n langer leeftyd. Hy en sy ongelooflike span het dit begin en ek wou aan hulle eer gee daarvoor.

Wat is jou toekomsplanne?

Ek wil voortgaan om musieklesse aan te bied, want dis my passie en ek wil dit met soveel moontlik mense deel. Hierdie jaar wil ek ook daarop fokus om my oorspronklike musiek met die res van die wêreld te deel. Ek wil video’s maak en meer musiek komponeer. Ek droom groot en wil alles in my vermoë doen om my drome te bewaarheid.

Wat is jou spesiale boodskap vir Merise-lesers?

Familie sal altyd daar wees vir jou. Moet nooit jou rug draai op mense wat van die begin af daar was en jou onvoorwaardelik liefhet nie. Selfs in die donkerste oomblikke van jou lewe is daar altyd ‘n lig aan die einde van die tonnel. Hou jou kop omhoog en bly doelgerig.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *