Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

Reis is meer as ’n kiekie

Reis is meer as ’n kiekie

deur Tinus van Staden

Reis gaan oor meer as net ikoniese landmerke, mu­seums en standbeelde. Hoewel dit ’n groot deel van die ervaring uitmaak, kry ek soms die gevoel dat duisende toeriste net na die Rijksmuseum in Amsterdam gaan om ’n foto by Rembrandt se ongelooflike “Die Nagwag” te neem, of ’n selfie op ’n brug in die grachtengordel.

Maar volgens my (’n uitdrukking waarvoor die Nederlanders uitermatig lief is) gaan reis oor meer as net die bakens wat in oorvloed die hele Europa op die map sit. Dit gaan oor die mense wat meestal spontaan en onbeplan die storiestof van jou reis word. Ek wil nie teruggaan Bloemfontein toe en vir my pelle om die vleisbraaivuur vertel van Van Gogh se “The Potato Eaters”, of van die Nederlandse Goue Eeu in die 1600’s nie.

Ek wil hulle vertel hoe ek in ’n Australiese kroeg gesit het tydens die Superrugbyeindstryd en gemaklik met ander Suid-Afrikaners in my moedertaal ’n lukrake gesprek aangeknoop het. Ek wil vertel hoe klein die wêreld is, hoe die man wat ek daar ontmoet het, presies dieselfde doopnaam as ek het. Marthinus Jacobus van Staden van Sydney. Hy het ons hele familiegeskiedenis vir my uitgelê. Saam met hom, sy vrou en ’n ander Suid-Afrikaner wat in Amsterdam woon, het ek gekuier tot laat die middag (omdat ek hulle aan hul kinders herinner het, het ek nie vir ’n enkele bier betaal nie – viva, stamboom, viva!).

Om te reis, gaan vir my oor die kameraderie wat so gemaklik sonder enige inspanning tussen reisigers kristaliseer. Soos die Australiër wat ek oor ’n bord varkribbetjies in ’n ander sportkroeg ontmoet het. Ons het aan die gesels geraak en dit het geblyk dat hy met ’n rugsak deur Europa toer. Hy sou in ’n jeugherberg geslaap het, maar het op die ou end twee aande by my oorgebly. Op ’n vorige toer deur Europa het hy ’n meisie ontmoet wat in Amsterdam woon. Ons het die aand saam met haar en vriendinne die naglewe (klubs, nie die Rooiligdistrik nie) gaan verken. En Nederlandse meisies is mooi . . .

Almal wat ’n mens in Amsterdam ontmoet, het ’n rugsak vol herinneringe en stories. Om te reis, gaan oor meer as net ’n versameling foto’s wat jy haastig en sonder ’n goeie hoek by beroemde plekke neem om vir vriende en familie te wys en op Facebook te deel. Reis gaan oor die stories met soveel diverse karakters wat ’n mens versamel terwyl jy jou weg in ’n vreemde land probeer vind. Tussen alles wat vreemd is, besef jy dat almal op die een of ander manier gelyke grond kan vind.

Kry al die jongste Suid-Afrikaanse en internasionale nuus in jou moedertaal op Netwerk24. Ons is die aanlyntuiste van al die gunsteling- Afrikaanse koeranttitels soos Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport. Jy kan kies en keur uit ons inhoud – van lipleklekkerresepte tot vuurwarm debatte. Sluit aan by die beste gesprek in Afrikaans – Netwerk24 – teen slegs R99 per maand of stel dit GRATIS op die proef vir 30 dae!

Klik op hier om te registreer.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *