Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

Donkerland op ShowMax

Donkerland op ShowMax

Pieter de Witt is keelvol vir die Engelse met al hulle reëls en regulasies. Verbeel jou . . . ewe skielik moet jou naam op jou ossewa aangebring word as jy deur die strate wil ry en moet jy ‘n permit hê as jy wil jag. Genoeg is genoeg! Na ‘n onderonsie met die gereg slaag hy daarin om met behulp van ‘n vriend uit die tronk te ontsnap en kies koers noorde toe. Hy droom oor sy eie stukkie grond waar hy kan kom en gaan soos hy wil. Sodra hy die regte plek gekry het, gaan hy ‘n pen inslaan en daarvandaan ‘n halfuur in elke windrigting stap om sodoende sy plaas af te baken. Hierdie plaas gaan hy Donkerland doop, sodat hy nooit sal vergeet waarvandaan hy gekom het nie.

In die laaste deel van Deon Opperman se trilogie oor die geskiedenis van die Afrikaner, kry die kyker insae in die De Witt-familie se stryd om oorlewing vanaf 1838 tot 1996. Donkerland, wat oor 13 episodes strek, wys hoe sewe geslagte die daaglikse uitdagings hanteer, vanaf die Groot Trek en die Groot Depressie tot en met die verkiesing in 1948, die Grensoorlog en uiteindelik die aanpassings in die nuwe Suid-Afrika.

Hierdie skitterende dramareeks volg op die eerste twee dele, Kruispad en Hartland. Dit is ‘n insiggewende weergawe van die Afrikanergeskiedenis, soos gesien deur die oë van die De Witt-familie.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *