Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

HIER KOM ‘n DING!

HIER KOM ‘n DING!

Foto: Cas Cheeseman

Hy mag miskien nog aan die begin van sy loopbaan staan, maar Du Toit Bredenkamp is ooglopend vir groter dinge bestem. Hierdie gebore Kapenaar is nog nie eens tien jaar in Australië nie en hy is reeds aangewys as een van die ses jong topkunstenaars in die land!

Sy liefde vir sang en musiek spruit uit sy vroeë kinderjare. Van jongs af speel hy reeds klavier en het na skool ‘n musiekgraad verwerf. Op die koop toe, kan hy ook sing en dans. Hy vind sy grootste inspirasie by sy ouers, Gerhard en Anita Bredenkamp van Perth, wat altyd regstaan om ander mense te help ondanks hul eie omstandighede. Sy meisie sorg dat sy voete plat op die aarde bly deur hom te ondersteun sodat  hy dinge in perspektief sien en elke oomblik terdeë kan geniet.

Merise wou graag meer uitvind oor hierdie talentvolle jong kunstenaar en het ‘n paar vrae aan hom gestel.

VERTEL ONS HOE DIT GEBEUR HET DAT JY AANGEWYS IS AS EEN VAN DIE SES FINALISTE VIR DIE ROB GUEST ENDOWMENT-TOEKENNING

Elke jaar oudisie sowat 300 jong kunstenaars vir die kompetisie, waar een kunstenaar die prysgeld van A$20 000 wen om sy of haar opleiding te bevorder. Die 300 word dan uitgedun tot 30, tot daar uiteindelik net ses oorbly. In elke rondte moet alle deelnemers een of twee liedjies uit ‘n bekende musiekteaterproduksie sing. In die semifinaal is daar ‘n danskomponent ook. Ek het hierdie jaar ingeskryf en was baie gelukkig om deur elke rondte te kom. In die finale rondte, die galakonsert op 14 November, tree ek weer op.

WAT WAS TOT DUSVER JOU GUNSTELINGDEEL VAN DIE KOMPETISIE?

Die semifinaal was ‘n warrelwind van aksie. Ons het tien optredes van The Sound of Music in Perth gedoen, die openingsand gehad, waarna ek toe op die red-eye Sydney toe gevlieg het. Met ‘n skamele drie ure se slaap en ‘n sterk koffie-regmaker, het ek met ‘n breë glimlag by die oudisie ingestap en my gunstelingliedjies gesing voor van Australië se belangrikste regisseurs, musiekregisseurs en choreograwe. Dit was totaal gek, maar dit was die opwindendste 24 uur van my lewe!

OP WATTER MANIER HET DIE MIGRASIEPROSES JOU VERANDER?

Ek het geleer dat niks vanselfsprekend is nie. Dat die enigste manier om uit te styg bo jou omstandighede is om uit jou gemaksone te beweeg en hard te werk tot jou drome waar word.

HOE OORKOM JY STRUIKELBLOKKE?

Ek is nog in die proses om te leer dat wanneer ek nie ‘n rol kry nie, dit nie is omdat ek nie goed genoeg is nie, maar omdat ek net nie vir daardie spesifieke prentjie geskik is nie. Deeglike beplanning en voorbereiding vir elke oudisie is vir my uiters belangrik. Daarbenewens oefen ek so hard, dat as ek by die deure uitstap ek tevrede kan wees met myself en die werk wat ek doen. Die res is in God se hande.

WAT IS JOU GROOTSTE DROOM VIR JOU LOOPBAAN?

My grootste droom is om gelukkig te wees met my lewe, om die werk te doen waarvoor ek lief is en steeds my familie rondom my te hê wat die lewe saam met my geniet.

HOE KAN MERISE-LESERS JOU HELP OM JOU LOOPBAAN TE BEVORDER?

Bid asseblief vir my en ondersteun die kunste. En as julle meer wil weet oor my loopbaan en hoe ek vorder, kan julle my op Instagram en Twitter volg.

WAT IS JOU BOODSKAP AAN MERISE-LESERS?

Hallo en dankie vir julle belangstelling in my loopbaan! Hou asseblief aan om na die groot musiekopvoerings te gaan kyk as dit in jou stad opgevoer word, want sonder ‘n gehoor het ek en ander kunstenaars nie werk nie! En as julle in Sydney is op die 14e November, kom kyk gerus hoe ek saam met die vyf ander finaliste dit uitspook om die Rob Guest Endowment-toekenning by die Lyric-teater!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *