Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

Die lewe van ‘n boer in Wes-Australië

Die lewe van ‘n boer in Wes-Australië

Jasper Greyling het in die Vrystaat met skape, graan en wild geboer. Hier in Australië boer hy met skape, koring en hawer in die Gingin-omgewing, wat ongeveer 100km Noord van Perth geleë is.

Hy deel graag sy ondervinding met Merise-lesers:

As jy die lewe van ‘n Australiese boer in ‘n paar woorde wil opsom, is dit harde werk en eensaamheid. Boonop is boere se verdienste maar knap, veral in vergelyking met wat hulle insit.

Jasper boer nou al meer as tien jaar in Australië, maar hy sal nooit die aanvanklike skok vergeet toe hy hier begin boer het nie. “Jy het nie ‘n idee van hoe hard hierdie boere werk nie”, vertel hy. “In Suid-Afrika was arbeid bekostigbaar, maar in Australië is dit jy en jy alleen. Jy moet absoluut alles self doen – van draad regmaak tot vee aanjaag en skottelgoed was!”

“En dan is daar die eensaamheid. Jy werk alleen en daar is niemand met wie jy jou dagtaak deel nie. Die kinders sien hoe swaar die ouers kry en vat eerder koers stad toe, want hulle sien nie kans om ook so te sukkel nie.”

“Dis moeilik om ‘n rooskleurige toekoms voor te hou,” sê Jasper. “Die werk word nie minder nie en as jy eers in jou vyftigs is, kry jy nie sommer ‘n ander werk nie. Dan is boerdery jou lot en is daar nie ‘n uitkomkans nie. Jy moet maar net vasbyt en aanhou en hoop dat volgende jaar ‘n beter jaar sal wees”.

Heelwat Suid-Afrikaners wat in Wes-Australië kom boer, gooi tou op omdat dit net te moeilik is, hulle nie aan die hitte en onvrugbare grond gewoond is nie en boonop is jou inkomste maar wisselvallig. Daarby voel dit asof die plaaslike gemeenskap boere nie na waarde ag nie. In Suid-Afrika is boerdery ‘n gerespekteerde beroep. “Jy was trots daarop om te kon sê  jy is ‘n boer en jou bydrae tot die welvaart van die gemeenskap was waardeer” vertel Jasper.

Jasper se boodskap aan Merise-lesers:

“Ondersteun die boere direk waar jy ookal kan. Koop jou vars produkte by afsetpunte soos die Farmers Markets. Plaaslike produkte word nie noodwendig in die groot supermarkte verkoop nie omdat alles eers na ‘n ‘hub’ gestuur word wat gewoonlik in die Ooste van die land is. Die produkte wat dan op ons rakke kom is dikwels oud, van êrens anders en die plaaslike boere kry nie die ondersteuning wat hulle nodig het nie,” vertel Jasper.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *