Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

Afgedank met ‘n 457-visum

Afgedank met ‘n 457-visum

Deur Sue Stanhope en Steven O’Neil

Om in Australië afgedank te word as jy met ‘n 457-visum in die land toegelaat is, is sekerlik een van die ergste migrasie-nagmerries denkbaar.

Jy het net 90 dae om ‘n nuwe borg te kry as jy met ‘n 457-visum in Australië is en afgedank word – anders moet jy en jou afhanklikes noodgedwonge die land verlaat. Teruggaan is dalk nie die antwoord nie. Veral nie as jy in jou vorige land jou werk opgegee het, jou huis verkoop of verhuur het en jou motor verkoop het nie. Dan is daar die kwessie van geld – dit is baie duur om na ‘n ander land te emigreer en jy kan dit dalk nie bekostig om terug te trek nie.

WAAR BEGIN JY?

Dit help nie om vir die wêreld kwaad te wees nie. Die eerste ding wat jy moet doen, is om jouself te oortuig jy is steeds dieselfde mens wat vanoggend die kantoor ingestap het – met dieselfde kwalifikasies, dieselfde stel vaardighede en dieselfde ervaring. Dis nie ‘n skande om weens besnoeiing afgedank te word nie. Aanvaar dat dit bloot ‘n sakebesluit is en nie iets persoonliks nie. Die maatskappy kan dalk deur ‘n moeilike tyd gaan en moet personeel verminder . . . daar kan ‘n duisternis redes wees wat geensins refleksie op jou is nie. Die basiese feit bly egter – jy staar ‘n uitputtende uitdaging in die gesig.

Moenie ‘n oomblik verspeel nie. Begin dadelik alles in die stryd werp.

 

1. BEREI JOUSELF GEESTELIK EN FISIEK VOOR

Kyk krities na jouself in die spieël. Lyk jy soos ‘n persoon wat die werk kan doen waarvoor jy aansoek doen? Trek jy gepas en “plaaslik” aan?
As die antwoord nee is, moet jy die nodige veranderinge maak om jouself die bes moontlike kans te gee.

Wees positief en voorbereid op elke moontlike geleentheid wat tot indiens-neming kan lei.

Sorg dat jy gesond bly. Deur moeg en uitgeput te lyk, kan jou kanse belemmer. Sorg dat jy heerlik vars lyk en ruik wanneer jy by die onderhoud opdaag

Wees koelkop. Dis nie ‘n goeie tyd om na die bottel te gryp nie.

Besef dat ‘n werksoekery vol aanslae is wat jou selfbeeld kan knou. Moeniedat dit jou onderkry nie.

Wees bereid om oor te begin, selfs al benut jy nie jou kwalifikasies nie.

Maak ‘n lysie van alles wat vir jou in jou professionele sowel as jou persoonlike lewe belangrik is. Dit sal jou help om besluite te neem waarmee jy kan saam-leef wanneer jy onderhandel.

 

2. REIK UIT
Begin met die mense wat jy ken. Reik uit na soveel moontlik mense – persoonlik sowel as deur sosiale media – vriende, vorige kollegas en mense by die kerk of sportklubs. Sê vir hulle dat jy sonder werk is, net ‘n beperkte tyd het om ‘n ander werk te kry omdat jy op ‘n 457-visum is, nie baie mense ken nie en omskryf duidelik die werk waarna jy soek. Vra of hulle jou in kontak kan bring met iemand in jou veld of weet van iemand wat dit kan doen.Indien hierdie persoon terugvoer gee, moenie net aanvaar hulle het vir jou ‘n werk gekry nie. Dis dalk net waardevolle inligting wat kan help om werk te kry. Steun op hul ervaring en kundigheid. Vra dat hulle jou aan die regte mense voorstel.

 

3. KRY ‘N WERKSOEKSTRATEGIE
Beplan jou werksoekery. Moenie waardevolle tyd en geld mors nie. Onthou dit bly jóú verantwoordelikheid om die onderhoudvoerder te oortuig dat jy die werk kan doen.

Begin deur jou resumé perfek te kry. Laat dit professioneel doen indien nodig.

Maak seker jou prestasies is uitgelig. Voornemende werkgewers het dalk min tyd en moet ná ‘n vinnige blik oor jou resumé kan besluit om jou na ‘n onderhoud te nooi of nie.

Wees vertroud met jou resumé en gesels intelligent oor elk van jou vorige posisies. Dit sal help om jou geloofwaardigheid te bevestig.

Kontak werwingsagentskappe, kyk na werkkennisgewings, besoek webwerwe soos seek.com en dié van maatskappye vir wie jy graag sou wou werk.

Verdeel jou soekproses tussen werksoek en aansoek doen vir poste, deur van sosiale media en netwerkgeleenthede gebruik te maak. Spandeer verhoudingsgewys meer tyd aan netwerkgeleenthede want dit verbeter jou kanse om ‘n potensiële werkgewer te ontmoet.

Indien jy ‘n resumé aanlyn indien, volg dit met ‘n telefoon-oproep op.

Wees voorbereid op verskeie onderhoude. Selfs al is dit nie suksesvol nie, is dit steeds ‘n goeie leerskool en gee dit jou die geleentheid om die “werkstaal” van jou nuwe land te leer ken.

Moenie onrealistiese verwagtinge koester nie. Al jou aansoeke sal nie tot onderhoude lei nie, maar onthou dat jy net een werksaanbod nodig het. Byt vas!

 

4. MOENIE AANSPRAAK MAAK NIE

Besef dat jy dalk nie ‘n pos op dieselfde vlak as in jou vorige land sal kry nie omdat jy nuut is in die land. Moenie voel dis jou goeie reg nie. Ongeag wat jy in die verlede gedoen of behaal het, is jy nie te goed vir enige werk nie – selfs al beteken dit dat jy ‘n ondergeskikte werk moet doen. Probeer by die regte bedryf inkom, sodat jy die regte mense ontmoet en uiteindelik jou droompos kry.

 

5. SOSIALE MEDIA

Om van sosiale media gebruik te maak, het voor- én nadele. Dit kan ‘n waardevolle hulpmiddel wees om ‘n vriend of ‘n vriend van ‘n vriend te soek wat bande het met die maat-skappy waarvoor jy wil werk. Onthou egter dat werwers jou ook op ‘n sosiale netwerk kan opspoor. Ongeveer nege uit tien werwingsbestuurders sê dat hulle na sosialemedia-netwerke kyk wanneer hulle werkaansoekers sif. Maak seker dat jou profiel bygewerk is met ‘n professionele kop-en-skouers-foto en dat die beeld wat jy uitstraal in lyn is met die pos waarvoor jy aansoek doen. Beskou dit as jou beste handelsmerk. Maak kontak met leiers in jou bedryf asook met professionele groepe en pos nuttige inligting.

 

6. NETWERK

Woon elke moontlike netwerkgeleentheid by waarvan jy weet en vra vriende en kollegas om jou na soortgelykes te nooi. Alle maatskappye adverteer nie hul vakante poste nie. Hulle kyk dikwels eers binne hul eie netwerk. Deur meer sigbaar te wees en soveel mense moontlik te laat weet dat jy beskikbaar is, verhoog dit jou kanse op ‘n verwysing.

 

7. DIE TELEFONIESE ONDERHOUD

Telefoniese onderhoude is dikwels die eerste stap na ‘n onder-houd. Toon opregte belangstelling en moenie die arme werwer met ingewikkelde tegniese besonderhede bombardeer nie. Oefen deur jou stem op te neem terwyl jy ‘n kinderboek lees om ‘n aanduiding te kry van hoe jy oor die foon klink. Hou die persoon aan die ander kant se belangstelling deur positief en energiek te klink. Berei antwoorde voor op standaardvrae om jou te help om vol selfvertroue te klink en nie belangrike besonderhede uit te laat nie.

 

8. DIE ONDERHOUD

Nadat ‘n onderhoud aan jou toegestaan is, moet jy die posbeskrywing bestudeer om waarlik te verstaan waarna die onderhoudvoerder op soek is. Pas jou resumé dienooreenkomstig aan of skryf ‘n dekbrief wat uitlig waarom jy die ideale kandidaat vir die pos is. Doen navorsing oor die maatskappy en die bedryf. Probeer verstaan waarom hulle op soek is na ‘n kandidaat met jou kwalifikasies en ervaring en maak seker dat jy die geleentheid kry om uit te spel waarom jy die ideale kandidaat vir die pos is. Vertel hoe jy tot die maatskappy kan bydra en moenie hamer op hoe graag jy die pos wil hê nie. Verkoop jouself. Hierdie is nie die tyd om beskeie te wees nie.

Bou ‘n verstandhouding met jou onderhoudvoerder deur hand te skud, oogkontak te maak en te glimlag. Behou oogkontak deur die hele onderhoudproses. Fokus op gesigsuitdrukkings en liggaamstaal wat vertroue, kalmte en volwassenheid uitstraal.

Doen ‘n foponderhoud tuis om jou te help om jou senuwees te kalmeer. Berei antwoorde voor op algemene vrae soos:

Hoekom is jy by hierdie onderhoud?
Verduidelik hoekom jy van werk verander en hoe jou vaardighede en ervaring in hierdie pos pas.

Kan jy in ‘n span saamwerk?
Verduidelik wat jy gedoen het om jou span in ‘n vorige pos te help om ‘n doelwit te bereik.

Wat maak jou anders as al die ander kandidate?
Bemark jouself. Die onderhoudvoerder wil weet of jy die regte persoon vir die pos is. Beklemtoon jou vaardighede met konkrete voorbeelde. Doen dit so goed dat die onderhoudvoerder jou maklik sal onthou.

Wat is jou verwagte salaris en kennistydperk?
Doen marknavorsing om ‘n idee te kry van die salarisgrense en ander voordele van die pos.

Watter waarde kan jy tot die maatskappy toevoeg?
Die onderhoudvoerder moet meer leer oor jou en wat jy tot die maatskappy se sukses kan bydra.

Antwoord vrae direk. Moenie huiwer om te vra as ‘n vraag nie duidelik is of jy onseker is van wat gevra word nie. Wees eerlik as jy nie ‘n antwoord weet nie, maar wys dat jy gretig is om te leer. Maak aantekeninge gedurende die onderhoud en vra opvolgvrae. Sommige onderhoudvoerders vra vreemde vrae soos: “Wat is jou mening oor tuindwergies?” of “Waarom is mangatdeksels rond?” Dit is om die spanning te verlig, te sien of jy ‘n sin vir humor het en buite die boks kan dink.

Wees altyd jouself. Jou onderhoudvoerder sal jou opregtheid en egtheid waardeer. Sluit die onderhoud af met iets soos: “Dit was goed om u/julle te ontmoet en meer oor die maatskappy te wete te kom.”

 

457-VISUMHOUERS WAT HUL WERK VERLOOR HET

WAT IS JOU OPSIES?

As jy dink dat die salaris, werksomstandighede of regte in jou werkplek onbillik was, kan jy ‘n klag teen jou werkgewer lê. Maak kontak met die Fair Work Ombudsman by 131394.
Jou werkgewer moet ‘n redelike bedrag van jou retoerkoste na jou oorspronklike land van verblyf betaal indien jy dit skriftelik versoek. Van die datum waarop jy of jou werkgewer die DIBP (Department of Immigration and Border Protection) in kennis stel dat jou diens eindig, sal jy 90 dae hê om:

– ‘n ander werkgewer te kry om jou te borg (hulle moet ‘n benoeming indien)
– vir ‘n ander soort visum aansoek te doen
– reëlings te tref om Australië te verlaat

Ander opsies om in Australië aan te bly, sluit in puntetoetsaansoeke, ‘n studentof ‘n besoekersvisum. Jou geskiktheid vir enige van hierdie opsies sal afhang van ‘n reeks faktore soos jou ouderdom, vaardighede, werkervaring, Engelsvaardigheid en die redes waarom jy langer wil bly. ‘n Goeie wegspringpunt is om met ‘n geregistreerde migrasieagent te gesels (in Australië moet alle agente geregistreer wees om advies te gee) of om die departement van immigrasie se webwerf by www.immi.gov.au te besoek.

 

Steven O’Neil, wat die opsies verskaf het vir 457-visumhouers wat hul werk verloor het, is die bestuurder van die migrasiemaatskappy Iscah. Hy kan gekontak word by +61 8 9353 3344 of migration@iscah.com (www.iscah.com)

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *