Pages Navigation Menu

jou migrasie-inspirasie

Die emosionele wipwa-rit van migrasie

Die emosionele wipwa-rit van migrasie

deur Madelet du Plessis

Migrasie is nie vir sissies nie. Enigiemand wat sy geboorteland om watter rede ook al verlaat om permanent in ‘n ander land te gaan wortelskiet, sal jou dit kan vertel. Daardie wortels vat lááánk om in vreemde grond vastrapplek te kry, maar met geduld en ‘n goeie dosis humor kan jy heelhuids anderkant uitkom – daar waar jy kan sê: “Dis nou my plek dié.”

Elbie van Coller, ‘n beradingsielkundige wat in Sydney praktiseer, het migrasie as onderwerp vir haar meestersverhandeling gekies. Sy was 16 jaar lank ‘n onderwyseres in Suid-Afrika voordat sy in die middel 90’s terug is universiteit toe en was besig met haar Sielkundestudies toe hul gesin in 2001 uit Suid-Afrika na Australië verhuis het. Die onderwerp vir haar verhandeling was dus ‘n logiese uitvloeisel van die situasie waarin sy haar bevind het.

Die eerste paar jaar na hulle aankoms hier, het Elbie talle onderhoude met Suid-Afrikaanse en ander immigrante gevoer en ook baie navorsing oor die onderwerp van migrasie gedoen. Dit was vir haar ‘n vreemde ervaring, want terwyl sy met mense gesels het om uit te vind hoe hulle die migrasieproses ervaar, moes sy, wat self midde-in die aanpassingsproses was, daaroor skryf. Sy kan dus met gesag oor die teoretiese én die praktiese aspekte hiervan gesels.

In haar baie gewilde en insiggewende seminare oor migrasieaanpassing, verdui-delik Elbie die fases van migrasie, wat baie ooreenstem met die verskillende fases van ‘n rouproses. Net om na haar te luister, is al ‘n groot verligting. Jy besef skielik dat jy nie in daardie eerste ruk na jou aankoms besig was om jou varkies kwyt te raak nie, toe jy met tye in erge depressie verval het en snags met uitputtende nagmerries geswoeg het.

Uit haar navorsing en vele onderhoude kon Elbie duidelik onderskei tussen VIER FASES IN DIE PROSES VAN MIGRASIEAANPASSING:

 

1. DIE STOOT/TREK-FASE

Die eerste fase, bekend as die “stoot/trek-fase” begin nog voor jy jou vaderland verlaat. Vrae soos die volgende begin by jou spook: Moet ons of moet ons nie? Sê nou maar ek kry nie werk nie? Hoe gaan die kinders aanpas? Sal ons nuwe vriende kan maak? Vlugtelinge ervaar hoofsaaklik die stoot-fase. Hulle wil net wegkom – van die oorlog af, die hongersnood, die misdaad, die vervolging of wat ook al die beweegrede is om uit hul vaderland pad te gee. Vlugtelinge is gewoonlik ook nie te kieskeurig oor waarheen hulle gaan nie, want enige ander land lyk vir hulle beter as die een waarvandaan hulle vlug.

Emigrante word hoofsaaklik gemotiveer deur die trek-fase. Vir die emigrant is die situasie in sy eie land nie noodwendig sleg nie, maar die geleenthede in die ander land lyk beter – tipies van die trek-fase.

‘n Goeie balans tussen die stoot- en trek-fase het gewoonlik tot gevolg dat die immigrant gelukkig is en goed aanpas in sy nuwe land.

Te veel stoot laat jou vassteek in daardie fase waar jy jouself oor en oor herinner waarom jy jou vaderland verlaat het. Jy lees gedurig nuus oor jou vaderland om jouself te oortuig hoe sleg dit daar gaan, jy gesels gereeld met ander immigrante in jou nuwe land oor dieselfde onderwerp en saam sweep julle mekaar op. Jy hou die stoot-fase inderwaarheid lewendig en dit is nie goed vir jou langtermyn-aanpassing nie.

Te veel van die trek-fase is egter ook nie goed nie, want dit lei tot onrealistiese verwagtinge. Die land waarheen jy emigreer, is nooit die perfekte Utopia waarvan jy droom nie – daar is ook maar frustrasies en struikelblokke om mee rekening te hou. En die mense in jou nuwe land is ook nie orals ewe gaaf, vriendelik en behulpsaam nie – mense is mense, waar in die wêreld ook al.

Elbie vertel die staaltjie van ‘n ou man wat op ‘n heuwel tussen twee dorpies woon. Daar kom eendag ‘n reisiger verby en vra vir die ou man: “Hoe lyk dinge in die vol-gende dorpie daar agter die heuwel?”

“Ek kom van ‘n aaklige dorp af waar die mense gedurig met mekaar baklei, die toestande haglik is en almal heeltyd kwaad en ongelukkig is.”

Die ou man antwoord: “In die volgende dorp lyk dit net soos daar waar jy vandaan kom.”

Daar kom toe ‘n tweede reisiger verby en vra vir die ou man: ”Hoe lyk dinge in die volgende dorpie daar agter die heuwel? Die dorp waar ek vandaan kom, is ‘n lieflike plek, die mense is lojaal en behulpsaam en almal lewe in vrede en liefde saam.”

En die ou man antwoord: “In die volgende dorp lyk dit net soos daar waar jy vandaan kom.”

Dit is dikwels so dat iemand presies dít wat hy verwag het, vind. Dit laat mens dink aan Henry Ford se wyse woorde: “If you think you can do a thing, or think you can’t do a thing, you’re right.”

Die emigrasieproses begin dus nog voordat jy vertrek, want die aanpassingsproses het reeds in jou kop begin. Dis ook op hierdie punt wat die stres en spanning begin opbou. Dis ongelooflik stresvol om ‘n hele huis, ‘n hele lewe op te pak. Om nie eens te praat van al die vorms, sertifikate, onderhoude, toetse, verklarings en dokumente wat daarmee gepaardgaan nie.

En dan praat ons nie eens van die Groot Afskeid nie . . . Soos die storietjie van ‘n pastoor in ‘n klein sendinggemeente wat iewers op die platteland afgetree het.

Sy gemeente het vir hom ‘n groot verrassingsafskeid gereël en ná die tyd het hy glo met oortuiging vertel: “Dáái afskeid, daai was die grootste skeid wat ek nog ooit afgeskeid het!”

 

2. DIE WITTEBROODFASE

Die eerste ruk nadat jy in die nuwe land aangekom het, is alles nuut en opwindend, vreemd en anders. Die nuwe immigrant is hipersensitief, sien elke klein dingetjie raak en beleef al die nuwighede intens: Produkte op die winkelrakke lyk anders en vreemd; die verkeersligte se fases is langer; die spoedgrense is laer; die meeste motorbestuurders is hofliker en geduldiger; huise is selde met heinings of mure omring en as dit wel voorkom, dien dit eerder as versiering; muskietgaas is feitlik die ergste vorm van diefwering voor die vensters; sommige huise het nie eens motorhuise nie, net ‘n afdak; motors word oornag in die straat gelos en mense stap alleen in die straat . . . selfs laataand.

Terwyl jy baie fyn ingestel is op al hierdie nuwighede, voel jy terselfdertyd ‘n bietjie dom, want jy moet alles van voor af uitvind en leer doen: hoe jy ‘n huis huur of koop; hoe die skoolstelsel werk; hoe jy self brandstof ingooi; hoe jy ‘n telefoon en internettoegang kan kry. Jy verstaan nie al die vreemde aksente en uitdrukkings nie en moet telkemale vra dat iemand stadiger praat of herhaal wat gesê is. Alles wat jy jou hele lewe lank as vanselfsprekend aanvaar het, moet jy opnuut aanleer.

Hierdie tweede fase vlieg gewoonlik verby omdat jy so gefokus en doelgerig is om alles onder die knie te kry.

 

3. DIE KRISISFASE

As die stof na die eerste jaar of wat gaan lê het, begin jy jouself afvra: Is dit nou soos dit gaan wees? Soos die Engelse sê: “Is this as good as it gets?”

Hierdie fase gaan gewoonlik met intense emosies gepaard – verlies en smart aan die een kant en opgehoopte spanning en stres aan die ander kant.

Dis dan wanneer jy begin besef hoevéél daar nog gedoen moet word . . . jy is dan al amper twee jaar aan’t swoeg en sweet en dit voel nie juis of jy vordering gemaak het of dat dit makliker geword het nie.

 

VERLIES EN SMART

Wat verloor jy?

Jy laat besittings en baie dinge waarvoor jy lief is, agter. Mense, plekke, bekende gesigte en uitsigte, taal en kultuur, alles is skielik ver . . . jy voel soms leeg van binne, verlore en verlate. Jy ervaar ‘n gevoel van dissosiasie, asof dinge om jou onwerklik is, asof jy self soms nie werklik is nie.

Jy verloor die gevoel van bevoegdheid en kundigheid. Jy het deur die jare baie kennis en ervaring opgebou; jy het geweet hoe om dinge te doen; jy kon goed organiseer; jy het baie mense geken en jy het ‘n netwerk gehad waarop jy kon staatmaak.

Dan klim jy eendag op ‘n vliegtuig en kort nadat jy anderkant afgeklim het, voel jy verlore, verlate en dom – jy twyfel oor wat reg en verkeerd is of wat aanvaarbaar is en wat nie.

Jy beleef ‘n verlies aan sekuriteit. Baie migrante het getrek omdat hulle onveilig in hul vaderland gevoel het en nou, al is dit om ‘n heel ande rede, voel hulle soms weer nét so . . .

Jy begin aan jou identiteit en status twyfel. Al die jare se werkervaring, grade, indrukwekkende CV, dit álles beteken nie noodwendig dat die rooi tapyt voor jou ooprol nie. Prokureur, dokter, onderwyser, sielkundige . . . dit tel nie altyd punte nie. “Het jy in Australië of Nieu-Seeland gepraktiseer? Nog nie? Jammer . . . volgende!” Daardie verlies aan identiteit is baie moeilik, veral vir ‘n man wat gewoonlik die broodwinner is en dikwels sy lewe en identiteit in sy loopbaan vind.

As ‘n man nie werk kry nie, maar sy vrou wél en sy verdien ‘n inkomste, kan dit talle probleme en onenigheid in ‘n huwelik veroorsaak. Die huwelikslewe van immigrante ly vele kere hieronder want dit kan ‘n bose kringloop word wat probleme vererger en paartjies uitmekaar dryf. Mense neem soms selfs hul toevlug tot negatiewe aanpassing (maladaptive coping) soos te veel eet, drink, dobbel en so meer – ‘n bose kringloop, want dit plaas nog meer stres op ‘n huwelik.

Mense in die krisisfase voel ook dikwels skuldig. Jy voel skuldig oor jou ouers, kinders of familie wat moes agterbly. Dis ook die fase waar vrae jou begin teister soos: Het ons die regte ding gedoen? Moet ons nie dalk teruggaan nie? Is dit die regte plek vir ons? Is dit die regte plek vir ons kinders?

Depressie en woede is algemeen in hierdie fase: Dalk woede teenoor jou vaderland se regering, woede teenoor die regering van jou nuwe land, woede teenoor jou wederhelf – veral as jy nie die een is wat wou padgee nie – woede teenoor jouself, die plaaslike munisipaliteit, die verkeer op die paaie . . . Jy’s bloot kwaad vir alles en almal en haal dit op almal om jou uit.

 

OPGEHOOPTE STRES EN SPANNING

Wat veroorsaak spanning by nuwe immigrante?

Die “dom”-faktor – jy besef jy het baie om te leer en dit gebeur te stadig.

Die finansiële faktor – jy moet vinnig leer om jou rande deur tien te deel en boonop is alles hier duurder. Huise kos baie meer as in Suid-Afrika en huishulp, tuinhulp en kindersorg is bykans onbekostigbaar . . . jy verdien soms net nie genoeg om in al jou finansiële behoeftes te voorsien nie.

Die huiswerkfaktor – almal in die gesin moet nou inspring en handjie bysit met die skoonmaak van die huis, die skottelgoed, wasgoed, kosmaak en tuinwerk. Dit kan erge spanning veroorsaak in huishoudings waar almal gewoond was aan huis- en tuinhulp. Elbie vertel laggend hoe sy eendag besef het sy is nou in die “beloofde land” met ‘n toiletborsel in die hand!

Die kommunikasiefaktor – ons praat en onderhandel nie oor dinge wat pla en skaaf nie, wat weer stres en spanning laat ophoop. Baie gesels, vele onderhandelings en nog meer geduld is noodsaaklik.

 

4. DIE FASE VAN AANPASSING EN AANVAARDING

So teen die derde, vierde jaar begin die aanpassingsfase verbygaan en begin jy ingeburger raak. Jy verstaan en lag vir tipiese Ozzie- of Kiwi-grappies. Jy voel meer tuis, jy begin vergeet van jou hoë verwagtinge en raak gemaklik met jou omstandighede soos dit is.

Jy het ‘n nuwe ondersteuningsnetwerk. Jy het nuwe vriende gemaak. Jy begin jou eie identiteit vestig . . . trouens, jy begin vir jou ‘n eie plekkie in die nuwe land oopskop.
‘n Goeie manier om aan jou eie identiteit te bou, is om ‘n winkelsentrum of ‘n straat met baie winkels in as jou eie te begin aanneem.

Kry ‘n gereelde koffiekroegie daar, ondersteun dieselfde slagter, bakkery, apteek, supermark of haarkapper. Leer die sakemense ken en laat hulle jóú leer ken. Wanneer die slagter onthou jy’s die dame wat altyd skaapnek bestel of die man wat altyd osstert kom koop, of wanneer die haarkapper vra of hy jou
hare nes die vorige keer moet knip, dan weet jy: “Dis nou my plek dié.”

 

WAT IS NODIG OM ‘n SUKSESVOLLE IMMIGRANT TE WEES?

Aanvaarding – om te onderskei tussen dit wat jy kán en nié kan verander nie en die vermoë om dit so te aanvaar.

‘n Vaste voorneme – om die lewe hier in jou nuwe land na jou beste vermoë te hanteer.

‘n Sterk sin vir motivering en toewyding – Victor Frankl het gesê ‘n mens het die vryheid om sy eie gesindheid te kies. Besluit om positief te wees – jy het altyd ‘n keuse.

‘n Morele of spirituele bron – soos om aan ‘n kerk of soortgelyke groep te behoort.

‘n Positiewe ingesteldheid – teenoor jou gasheerland en sy mense. Dit maak die lewe vir jou en almal om jou baie makliker.

‘n Goeie humorsin – As jy deur die trane kan lag, sal jy heelhuids anderkant uitkom.

 

HOU OOK DIE VOLGENDE IN GEDAGTE

Goeie sosiale vaardighede laat jou beter en makliker met mense oor die weg kom.

Mense met realistiese (teenoor onrealistiese) verwagtinge pas beter aan.

Gesonde verstand is baie belangriker as ‘n hoë IK.

Fisieke gesondheid is baie belangrik, veral in tye waar stres en spanning hoog loop. ‘n Gesonde, sterk en fikse liggaam hanteer dit alles baie beter.

Beskou dinge vanuit ‘n ander perspektief – die Ozzies of Kiwi’s het jóú nie noodwendig nodig nie – jy het húlle nodig. Onthou hoe jy oor immigrante in jou vaderland gevoel het – die Griekse of Portugese kafee- of groentewinkeleienaar wat jou nie mooi kon verstaan nie . . . Jy is nou in dieselfde bootjies.

Jy sal vinnig nuwe vriende maak deur aan te sluit by ‘n organisasie van jou keuse: ‘n sportklub, naaldwerkgroep, kerkgroep, biblioteek, stapgroep, skryfgroep – daar is honderde voorbeelde. Of skryf in vir ‘n kort kursus by ‘n kollege of gemeenskapsentrum.

Steun op jou gesin, jou familie en die mense wat na aan jou is en hou hulle bymekaar.

As jy probleme ondervind, kry hulp! Vra hulp by jou gesinslede, jou dokter, jou predikant, jou apteker, jou buurman of jou vriende – enigiemand wat jy vertrou.

En laaste, maar beslis nie die minste nie: Die “beloofde land” is in jou kop. Jy sal daar uitkom wanneer jy gereed is.

 

Hierdie artikel het in die eerste uitgawe van Merise verskyn en word op lesersaandrang weer gepubliseer. Elbie van Coller se kontakbesonderhede is: www.elbie.com.au / elbievancoller@icloud.com / +61 (2) 9440 2209 / +61 (413) 877 004

 

 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *